[Resensie] Riana Nel – ‘Jy sal weet’

riana-nel-jy-sal-weet

Riana Nel se album getiteld, “Jy sal weet”. Foto: Twitter.com

Jy sal weet is ’n suksesvolle opvolg op Riana Nel se vorige album. Sy het sekerlik tans ook een van die beste stemme in ons land. Haar nuwe album is reeds besaai met verskeie toekomstige enkelsnitte, met die titelsnit, “Jy sal weet”, wat sterk uitstaan.

Ander gunstelinge is “Selfde bed”, “Skouers”, “Treinspoor”, “Nooit te laat” en “As jy dit bedoel”. Met nie minder nie as 18 liedjies op dié album, spog Riana ook met ’n paar Engelse liedjies. Die country-ondertoon kan duidelik gehoor word in “Like we used to” en “I might give in”. Dit wys hoe gemaklik Riana in Engels en Afrikaans kan sing.

Dan is daar natuurlik ook ’n weergawe van Brandi Carlile se “The story”, en boonop ’n geestelike inslag met ’n gospel-medley. Met nog ’n sterk album uit die Coleske-kamp is daar uiteraard met die bestes saamgewerk, onder wie Juan “Floors” Oosthuizen en Danny Smoke wat die verwerkings en produksie behartig het.

Al die oorspronklike snitte is deur Riana self geskryf met die hulp van die Coleske-broers Ewald en Arnold. Met ’n stewige produksie, sterk liedjies en Riana se engelstem gaan dié album net nog ’n groot sukses vir haar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Riana baie geluk met jou nuwe CD. Jy is voorwaar ‘n finominale sangeres en mens.

Tina ·

Ek hou glad nie van die album nie. Meeste van Riana se liedjies klink vir my dieselfde. Sy het ‘n baie baie mooi stem, maar sy is geneig om die verkeerde goed te sing. Net my opinie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.