Resensie: Romeo en Juliet- Anthonie Bougas

Anthonie-Bougas

‘n Skermskoot uit die video.

Sedert sy deelname aan die televisiereeks “Supersterre” het Anthonie Bougas nog net een CD vrygestel, maar nadat hy lank stil was, is hy terug met sy jongste album Romeo en Juliet.

Op die eerste snit, “Solis vir Christus”, kom ‘n mens agter dat sy musiek al hoe meer na die Christelike kant toe begin neig, maar dit beteken nie dat hy hom uitsluitlik op hierdie soort musiek toespits nie.  Die titelsnit is een van die treffers op die album; dit het reeds radiolugtyd begin kry en behoort Anthonie in die Afrikaanse musiekbedryf te vestig.

“Hartsoldaat” was Anthonie se eerste treffer, maar nugter weet hoekom dit weer ingesluit is. Dit is nie regtig iets besonders nie en dit is nog een van die Afrikaanse liedjies waarop die uiters irriterende woord “baby” voorkom.

“7 dae sonder jou” is presies die teenoorgestelde; dit is ‘n baie goeie snit wat ‘n treffer behoort te word.  “Minka” is nog ‘n nuwe Afrikaanse snit wat miskien radiolugtyd sal kry, maar “Die een vir my” sou beter geklink het as “Die girl vir my”.

Moniqe Foxx sing saam met Anthonie op “My only true love”, ‘n pragtige snit wat baie vir albei se loopbane kan beteken.  Nog ‘n duet op die album is “Sing in harmonie”, waarop Sanet Lambrechts saam met hom sing. Dit is dalk  een van die hoogtepunte van die hele album. “Een soen om te sê hallo” is die een snit waarvan ‘n musiekvideo al vervaardig is en daarom sal dit sekerlik die eerste treffer wees.

“Kom saam met my” is ‘n lekker snit waarvan veral jongmense sal hou.  “My hart is waar my huis is” is ‘n goeie snit wat verdien om gereeld oor die radio gespeel te word.  “Daarom” is ‘n pragtige lied wat deur heelwat gemeentes gesing word. Dis goed dat Anthonie besluit het om dit op te neem, want dit is moeilik om hierdie lied in die hande te kry.

“Angel” was oorspronklik ‘n treffer vir Sarah Mc Lachlan en Anthonie se weergawe daarvan is baie mooi.  “Die Kind is gebore” is nog ‘n besondere snit en hopelik sal dit teen Kersfees vanjaar gereeld oor die radio gespeel word. Die koor wat in die agtergrond sing, maak jou lus om saam te sing!

“Jy’s my engel” is sekerlik een van die mooiste liedjies wat Kurt Darren tot nog toe opgeneem het en noudat Anthonie dit ook opgeneem het, behoort dit van voor af gewild te word.  Daar was al baie kunstenaars wat die bekende “Houtkruis” opgeneem het en Anthonie se opname is net so goed soos enige ander een wat dalk al verskyn het. Die laaste snit op die album is sy weergawe van Michael W. Smith se pragtige aanbiddingslied “Agnus Dei”, waarop Johan C. Venter, Nadia van der Westhuizen en die Magaliesberg-kinderkoor saam met hom sing.

As ‘n mens na hierdie album luister, besef jy dat Anthonie geweldig as kunstenaar gegroei het.  Wat sy musiek betref, slaag hy in sy doel om ‘n rolmodel vir jongmense te wees, ondanks een of twee snitte waarop die deurmekaar taalgebruik ‘n probleem is.  Hy kan ook maklik ‘n deurbraak op die Christelike musiektoneel maak, maar ‘n mens hoop dat hy hom nie uitsluitlik daarop sal toespits nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.