[Resensie] Rooies is terug met ‘Koedoebul’

rooies-koedoebul

Rooies se jongste album “Koedoebul”. Foto: Soundcloud.com

Nadat Rooies verlede jaar stilgestaan en sy versamelalbum 40 treffers uit my eie pen vrygestel het, is hy terug met sy jongste album, Koedoebul.

Gewoonlik skryf Rooies sy eie liedjies, maar in hierdie album het hy verskeie liedjieskrywers se komposisies ingesluit. Hy bring hoofsaaklik hulde aan twee bekende kunstenaars van die Weskus wat reeds oorlede is, naamlik Zirk Berg en Zak van Niekerk.

Die eerste snit is egter die eerste van twee komposisies van Pieter van der Westhuizen wat hy ingesluit het, naamlik “Bokkie sê my reg”. Rooies se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die eerste van Zirk Berg se komposisies is “’n Huisie by die see”, waarop Zirk se skerp sin vir humor baie sterk na vore kom. As jy Zirk se musiek onthou, sal hierdie een dadelik vir jou bekend klink.

Ben Beukes het die titelsnit geskryf; dit is beslis een van die moontlike treffers vanaf die album. “In die kol” is nog ’n lekker snit wat Ben Beukes geskryf het. “My plaas se naam is Lekkerkry” was ’n treffer vir Zak van Niekerk, en die boodskap is dat ’n mens positief oor die lewe moet bly al gaan dit swaar.

“Wie’t al daai blomme geplant?” was seker een van Zirk Berg se grootste treffers en dit kan van voor af gewild word. Rooies is op sy beste as hy rustige snitte sing, soos wat hy in sy pragtige komposisie “Van Riebeeck” bewys. Enigiemand wat oor sy talent twyfel, hoef net na hierdie snit te luister. “Daar’s ’n vetplant in Boesmanland” is nog een van Zirk Berg se bekendste komposisies, en dit is ook al deur Thys die Bosveldklong opgeneem. Rooies behoort egter ook ’n treffer daarmee te hê.

“Maandag en Dinsdag” is nog een van Rooies se eie komposisies, en dit is presies die tipe liedjie wat ’n mens van hom sou verwag; net reg vir ’n lekker kuier. Rooies het “Bokka jy lyk goed vanaand” saam met Kobie Koen geskryf; dit is ’n snit wat die dansbaan gou vol sal kry. “Sout manne sout” is die tweede komposisie van Pieter van der Westhuizen wat Rooies ingesluit het. Dit verdien om van voor af ’n treffer te word. “Pap en wyn” is nog ’n lekker komposisie van Ben Beukes wat ’n treffer kan word.

Daar is egter een snit wat kop en skouers bo die res van die CD uitstaan en waaroor ’n mens nie uitgepraat kan raak nie. Annique het “Onthou” geskryf en oorspronklik opgeneem, maar ongelukkig het ’n mens sedertdien nog nie weer van haar gehoor nie. Hierdie liedjie is egter só goed dat dit nie sommer so in die vergetelheid mag verdwyn nie. Daarom is dit wonderlik dat Rooies dit opgeneem het. Dit móét eenvoudig een van die enkelsnitte vanaf die album word, en hopelik sal dit Rooies se groot deurbraak wees in die dele van die land waar hy nog nie so bekend is nie.

Ben Beukes het ook die laaste twee snitte geskryf. “Wat wo” is nog ’n lekker komposisie wat verdien om gewild te word. Mauritz Lotz se kitaarwerk en Rooies se lae register in “Dwaalskapie” klink baie goed; dit is een van die beste snitte en dis jammer dat dit aan die einde voorkom.

Rooies moes al heelwat kritiek verduur, veral as gevolg van sommige van sy lirieke en omdat nie al die snitte op sy trefferversameling uit sy pen kom soos hy beweer het nie. Hierdie album is egter sonder twyfel sy beste een nog, veral omdat hy hierdie keer wys wat regtig in hom steek. Dit was sowaar ’n aangename verrassing en ’n mens hoop dat hy in die toekoms met nóg beter musiek vorendag sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.