[Resensie] Rymstoff – ‘Alles en meer’

rymstoff-alles-en-meer

Rymstoff met hulle album getiteld ‘Alles en meer’. Foto: Stageandscreen.co.za

Daar is deesdae al hoe meer sangpare en groepe wie se musiek op ’n jonger gehoor gemik is. Rymstoff se jongste album val in dié kategorie.

Raymond Ray en Christoff de Beer is die twee lede van die sangpaar Rymstoff wie se debuutalbum, Alles en meer, onlangs uitgereik is.

Raymond het al in verskeie Barnyard-produksies opgetree en sy stem laat hom toe om byna enigiets te sing. Christoff was agt jaar lank deel van die groep Roots of Youth en het daarna by Kurt Darren se orkes as hoofkitaarspeler aangesluit. Nadat Joe Foster besluit het om Adam te verlaat en ’n sololoopbaan te volg, was Christoff ’n rukkie lank deel van dié groep totdat Kyle Grant heeltyds by die groep aangesluit het.

Raymond en Christoff se paaie het ’n rukkie gelede met dié van Hugo Ludik, een van die stigterslede van Adam, gekruis en hy het dadelik hul potensiaal raakgesien. Hoewel albei ook nog ander verpligtinge het, is die Rymstoff-duo vasberade om ’n sukses van hul musiekloopbaan te maak.

Die eerste snit op die album is die eerste enkelsnit, “Hartvlinders”, geskryf deur Vaughan en Nerine Gardiner. Volgens Raymond en Christoff gaan dit oor die gevoel van verliefdheid en die herhaling in die lirieke weerspieël daardie gevoel.

Raymond het dieselfde soort stem as Vaughan Gardiner en daarom pas dié liedjie baie goed by hulle. Die elektroniese klank sal hoofsaaklik by jonger luisteraars byval vind.

Nog ’n snit wat veral op ’n jonger gehoor gemik is, is “Lippe”, wat ook deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf is.

Die tweede enkelsnit in die album is “Hand aan hand”, ’n komposisie van Hugo Ludik. Dit is beslis een van die beste snitte in die album en behoort baie gewild te wees. Christoff wys op “Gaan nie ophou probeer nie” dat hy ook ’n goeie liedjieskrywer is. Boonop is die kitaarwerk in hierdie snit is besonder goed.

Die titelsnit is nog ’n hoogtepunt op die album, een waarin hulle ’n bietjie wegbreek van die elektroniese klank. Dié snit kan ’n groot treffer te word.

Hugo en Christoff het saamgespan vir “Ek is jou Saterdagaand”, nog ’n snit wat by meer as net jonger luisteraars byval gaan vind.

“Ek wonder soms” is ook die skryfwerk van Hugo en Christoff en veral die kitaarwerk is vernuftig. So ook “24” waarin gesing word van twee mense wat op ’n jong ouderdom al besluit om ’n lewe saam te begin.

“Koud sonder jou” klink heeltemal anders as enige van die ander snitte in die album en is bewys dat hulle ook rustige ballades kan sing.

“G.E.E.S.” sal veral by sportliefhebbers byval vind en dit kan maklik ’n geesvanglied word, ongeag watter sportsoort of span jy ondersteun.

Daar is net een Engelse snit ingesluit, “Shake it”, wat Christoff geskryf het. Dalk kan hulle ʼn volgende keer oorweeg om nog meer oorspronklike Engelse komposisies in te sluit. Veral die rymklets-gedeelte, met sy effense rasta-aksent, klink baie goed. Dis jammer dat hierdie snit aan die einde van die CD voorkom.

Daar is al ’n hele aantal nuwe kunstenaars wat vanjaar hul debuutalbums uitgereik het, en die mededinging om die toekenning as debuutkunstenaar of -groep met die Ghoema- en Huisgenoot Tempo-toekennings gaan besonder straf wees. Rymstoff se musiek is op ’n jonger mark gemik, maar daar is genoeg snitte wat ook by ’n breë gehoor byval sal vind. Hulle het ’n goeie kans om as nuwelinge van die jaar aangewys te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.