Resensie: ‘Sê c’est la vie’ – Kevin Leo

Kevin-Leo

Kevin Leo. Foto: Facebook.

As daar een soort kunstenaar is van wie daar nog nooit ’n tekort in die plaaslike musiekbedryf was nie, is dit ’n tenoor wat ligte musiek en opera ewe goed kan sing.

Gé Korsten, Gert Potgieter en Manuel Escorcio het dit reeds goed reggekry, en deesdae is Kevin Leo een van dié wat dit ook kan doen. Om die een of ander rede het sy debuutalbum, Sê c’est la vie, nou eers by my uitgekom, en daarom het ek besluit om tog ’n resensie daaroor te skryf. Dit lyk ook asof sy musiek weer meer geredelik beskikbaar is, en daarom is dit dalk goed om weer daarna te kyk.

Die eerste snit op die album, “Musiek”, vertel die verhaal van ’n musikant wat niemand spesiaal in sy lewe het nie, en musiek as uitlaatklep vir al sy emosies gebruik. Loshande die beste is ’n snit waarop Kevin wys dat hy lekker kan rock. Dit is geskryf deur Kalla Bremer en Don Clarke, wat ook verantwoordelik was vir Laurika Rauch se treffer “O so sentimenteel”. Die titelsnit was ’n groot treffer; hierin sing hy dat daar nie regtig antwoorde op lewensvrae is nie en dat ons die lewe moet aanvaar soos dit is.

“Ek sal jou nooit vergeet nie” het ’n lekker swing-klank en dit het eintlik verdien om meer gereeld oor die radio gehoor te word. “Liefde van later” is ’n komposisie van die bekende Belgiese sanger Jacques Brel, en daar is al soveel pogings aangewend om die liriek in Afrikaans te vertaal. Nie almal was ewe suksesvol nie, maar Kevin se weergawe is een van die beteres. Jannie du Toit het die Afrikaanse woorde geskryf, en omdat hy Nederlands goed ken, het hy geweet wat hy doen. Hy het nie te hard probeer om gedwonge rym toe te pas nie; iets wat niemand anders sou kon doen nie.

“Koshuismeisie” is nog ’n komposisie van Kalla Bremer, en eingiemand wat al op universiteit was, sal hierby aanklank vind. Dit is een van die snitte van die album wat nogal radiolugtyd gekry het. “Stap saam met my” is deur Johan van der Watt gekomponeer. Pieter Koen het dit ook gesing, maar Kevin se musiekverwerking klink heeltemal anders.

Kevin het self ’n paar snitte op die album geskryf, onder meer “Wie is jy”; ’n pragtige snit wat eintlik meer gereeld oor die radio gehoor moes word. “Liewe broer” was een van die treffers van die album, en dit verwoord die verhouding tussen twee broers baie goed. Christa Steyn en Kalla Bremer het “Die dubbelbed sê niks nie” saam geskryf. Hierin sing Kevin van die stryery wat gedurig in elke huwelik plaasvind. “Pa se boom” is nog een van Kevin se eie komposisies, en hierop sing hy van die lewensverhaal van ’n boom wat deur sy pa geplant is. “Jy is special” is die laaste snit op die album. Weereens het Kevin dit geskryf, en dis jammer dat dit aan die einde van die album “weggesteek” is.

Dis eintlik goed dat ’n mens weer die kans kry om Kevin se debuutalbum te hoor, want hy het hom gou as een van ons land se voorste kunstenaars gevestig. Daarom kan hierdie album soveel jare nadat dit oorspronklik uitgereik is, steeds aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.