Resensie: ‘Sing Afrikaner sing’ – Bok van Blerk

Bok-van-Blerk-Sing-Afrikaner-sing

Bok van Blerk se nuwe album, Sing Afrikaner sing, is nou beskikbaar. Foto: Youtube.com

Hoewel Bok van Blerk al ’n gevestigde kunstenaar op die Afrikaanse musiektoneel is, het hy die afgelope tyd meer aandag aan sy loopbaan as akteur gegee, en was in rolprente soos As jy sing, Leading lady, Vrou soek boer en Somerson te sien.

Nou is hy egter terug met sy vyfde album, Sing Afrikaner sing, en die vraag is of hy dieselfde sukses met hierdie album gaan behaal as met sy voriges. Met die titelsnit, geskryf deur Johan Vorster en Ewald Coleske, gee hy vir sy aanhangers presies wat hulle wil hê; ’n opruiende liedjie waarin die regte van Afrikaners aangespreek word.

Bok het “Bosveld-Afrika” saam met Johan Vorster en Ewald Coleske geskryf; dit lyk asof die Bosveld weer ’n gewilde onderwerp vir Afrikaanse liedjies geword het. “Hou jou voete op die grond” is opgedra aan Bok se seuntjie, wat aan sy ongebore seuntjie opgedra is. “Aan jou lippe hang” is ’n komposisie van Pietman Geldenhuys, wat ook al saam met Valiant Swart gewerk het. Diegene wat hou van kuier, sal “Al die dubbels” geniet. Die volgende snit, “Bok vir sports”, sluit nogal hierby aan. “Die beste dag van my lewe” is ’n lekker snit met skerp lirieke wat hopelik ’n groot treffer gaan word.

“Soos in die ou dae” is nog ’n snit wat ’n treffer behoort te word; dit gaan almal aan die sing en dans kry! Die woorde van “Voor ek my kop neerlê” laat jou dink; die boodskap is dat jy elke oomblik voluit moet lewe. “Skoenmaker” is die tweede snit op die album wat deur Pietman Geldenhuys geskryf is; dit is nog ’n snit met trefferpotensiaal. Laurika Rauch sing saam met Bok op “Ek het”, ’n komposisie van Johan Vorster. Die laaste snit op die album is “Soutwater”, wat in die rolprent Leading lady voorgekom het, en waarop Die Heuwels Fantasties saam met hom speel. Dit was iets anders vir Bok, maar ’n treffer.

Hoewel Bok getrou aan sy suksesresep bly, wys veral die laaste twee snitte dat hy nogtans nie gestagneer het nie. Daar is genoeg snitte op die album wat sy aanhangers tevrede sal stel, maar dis ook goed dat hy iets nuuts probeer het. Hierdie album behoort sommer baie gewild te word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.