Resensie: Só rock ons die wêreld reg – Nicholis Louw

Nicholis-Louw-so-rock-ons-die-wereld-reg

Nicholis Louw se nuwe album is ‘n versameling van treffers wat gehore sal bekoor. Foto: Argief.

Dit is nou al tien jaar sedert die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Nicholis Louw kennis geneem het.

Nicholis se debuutalbum, My hart is aan die brand, is in 2004 uitgereik, maar nadat hy die trefferliedjie Net die een vir my saam met Shine 4 opgeneem het, is die album opnuut vrygestel met hierdie liedjie as bonussnit en dit het Nicholis se loopbaan in die regte rigting gestuur. Intussen het hy een van ons land se gewildste kunstenaars geword. Hy het egter lank laas ‘n suksesvolle Afrikaanse album vrygestel en sy Christelike album, Gebed van ‘n sondaar, is nie deur almal goed ontvang nie.

Nou is hy egter terug met sy jongste album, Só rock ons die wêreld reg en die vraag is of hy weer dieselfde sukses as aan die begin van sy loopbaan kan behaal. Die eerste snit op die album is ook die eerste treffer, naamlik Bring die storm. Dit is ‘n spanpoging van Neil Schoombee, Adolf Vorster, Vaughan Gardiner en Pierre Rossouw. Gewoonlik is daar waarheid in die Engelse spreekwoord “too many cooks spoil the broth”, maar hulle het met ‘n lekker snit vorendag gekom. Dit is trouens beter as sommige van Nicholis se vorige treffers. Nicholis het die titelsnit saam met die twee grootbase van sy platemaatskappy geskryf, en weer eens is dit ‘n lekker snit wat ‘n treffer kan word. Utopia is ‘n oorsese meoldie waarvoor Nicholis die Afrikaanse woorde geskryf het. Dit is ‘n pragtige akoestiese snit, en bewys Nicholis se veelsydigheid as kunstenaar. Olé olé is nog ‘n Europese melodie met Afrikaanse lirieke, maar weer eens nie ‘n slegte snit nie. Crazy crazy crazy is ‘n Afrikaanse snit ten spyte van die Engelse titel. Dit is ingesluit op die album Treffer na treffer volume 6, maar dit was nie ‘n groot treffer nie. Tong in die kies is ‘n snit wat veral onder jonger luisteraars gewild sal wees. Gerhard Steyn het op een van sy vorige albums ‘n liedjie getiteld Miljoene soene ingesluit. Nicholis se liedjie met dieselfde titel is heeltemal anders; Neil Schoombe en Ernst Kleinhans het die Afrikaanse woorde daarvoor geskryf. Sout was nog ‘n snit wat ‘n treffer geword het voordat die album uitgereik is. Hy sing dit saam met Elizma Theron, en dit kom ook op Elizma se jongste album voor. Hulle twee het natuurlik ook saam ‘n treffer met Kom ons vat ‘n kans gehad. Bring it is ‘n Afrikaanse snit wat Nicholis saam met Marc Brendon en Don Kelly, in werklikheid Kosie van Niekerk en Ernst Kleinhans, die grootbase van Select Musiek, geskryf.

Gewoonlik sluit Nicholis ook opnames van internasionale treffers op sy albums in. Die eerste een op hierdie een is ‘n groot verrassing; The bangles se groot treffer Eternal flame. Nicholis sing dit in ‘n lae register en dit klink baie goed. Weerlig is nog ‘n Europese melodie met Afrikaanse lirieke; Nicholis het self die Afrikaanse woorde daarvoor geskryf. Verskeie kunstenaars het al liedjies met die naam Droomvrou geskryf of gesing; Nicholis het ‘n nuwe snit met dieselfde titel ingesluit; hy het ook die Afrikaanse lirieke daarvoor geskryf. Jy blaas die vuur is nog ‘n lekker snit wat ‘n treffer kan word. Die tweede bekende snit op die album is The Beatles se Hey Jude, wat gewoonlik tydens karaoke-byeemkomste vermink word. Gelukkig is die laaste deel van Nicholis se weergawe nie so lank en irriterend soos die oorspronklike een nie. Domino is nog ‘n moontlike treffer; dit is ‘n Europese melodie, maar daar word nie gesê wie die Afrikaanse lirieke geskryf het nie. Come on come on is die laaste snit op die album. Hierop wys Nicholis dat hy ook oorspronklike Engelse woorde kan skryf; dit is ‘n Christelike snit wat radiolugtyd verdien.

Die afgelope tyd het Nicholis se gewildheid afgeneem, en dit is nie altyd maklik om te verstaan hoekom nie. Miskien was sy laaste albums nie heeltemal so goed nie, of dalk het die publiek net te veel van hom gehad. Hoe ook al; met hierdie album is hy weer op sy beste. Daar is ‘n aantal snitte wat gewild kan word, en selfs dié wat hom kritiseer, sal weer eens besef dat hy ‘n kunstenaar met ware talent is. Hopelik sal hy weer die trefferslyste behoorlik met hierdie album stormloop.

Hier is Nicholis Louw met die musiekvideo van die liedjie, Bring die storm:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.