Resensie: ‘Something like Neil Diamond’ – JJ Stephens

JJ-Stephens

JJ Stephens. Foto: JJ Stephens se Facebook-blad.

Die afgelope tyd was daar weer ’n oplewing in die gewildheid van albums deur plaaslike kunstenaars wat hulde aan hul oorsese helde bring.

Dis moeilik om te sê presies waar dit begin het, maar Steve Hofmeyr se huldeblyke aan Neil Diamond was ’n klompie jare gelede besonder gewild. Nou het nog ’n kunstenaar dit nodig geag om hulde aan hierdie oorsese legende – wat nie net nog leef nie, maar steeds nuwe albums vrystel – te bring met ’n album wat uit niks anders as sy treffers bestaan nie.

JJ Stephens het omtrent 15 jaar gelede die eerste keer op die musiektoneel verskyn toe hy die liedjie “The day the roses died” as huldeblyk aan Bles Bridges opgeneem het. Sedertdien het hy verskeie albums vrygestel, en sy treffer, “Jy is die rots”, was ’n rekordgetal weke heel boaan ’n plaaslike radiostasie se trefferlys. Hy kon nog nie daardie sukses nadoen nie, maar veral sy Christelike album, Glo vas, het ’n sterk indruk gemaak.

Nadat hy ’n hele ruk stil was, het hy onlangs die album Something like Neil Diamond vrygestel. JJ sluit baie gereeld van Neil Diamond se musiek by sy vertonings in, maar tot dusver was hy skrikkerig om sy musiek op te neem. Hy erken dat hy hierdie album op openbare aanvraag vrygestel het.

Die eerste snit op die album is “Shilo”, een van Neil Diamond se vroeë treffers wat nog gereeld gehoor word. Die volgende snit is “Solitary man”, wat ook al deur Steve Hofmeyr en Chris Isaak opgeneem is. Veral Chris Isaak se opname vergelyk baie goed met die oorspronklike een, en die plaaslike kunstenaars se weergawes kan nie daarby kers vashou nie.

“Play me” het ’n treffer geword nadat Neil Diamond se skitterende konsertalbum Hot August Night vrygestel is, en hier kom ’n mens agter dat selfs groot kunstenaars se taalgebruik nie altyd onberispelik is nie. Hy het die woord “brang” as verlede tyd vir “bring” gebruik, pleks van “brought”, maar hy het dit gedoen om met “sang” te rym. Nogtans bly dit mooi.

Een van Neil Diamond se laaste groot treffers in Suid-Afrika was “Desirée”, en JJ se weergawe daarvan klink goed. “Sweet Caroline” het nie die eerste vyf op Springbok Radio se Top 20 gehaal nie, maar is deesdae holrug gery omdat omtrent almal dit probeer sing. Daarom verbaas dit niemand dat JJ dit nie ingesluit het nie. Nog ’n treffer van Neil Diamond wat in dieselfde kategorie val, is “I am … I said”, wat glad nie so maklik is om te sing as wat ’n mens mag dink nie. “Holly holy” was ’n groot treffer, maar dit word nie meer so gereeld gehoor nie; daarom is dit goed dat JJ dit ingesluit het.

Baie min mense sal my glo as ek dit sê, maar “Love on the rocks” was nie net Neil Diamond se laaste nr. 1-treffer op Springbok Radio se Top 20 nie, maar sy laaste treffer algeheel in Suid-Afrika. Hy het egter wel ’n aantal trefferalbums daarna gehad, maar geen trefferliedjies meer nie. JJ se weergawe van “Love on the rocks” kan glad nie met die oorspronklike weergawe vergelyk word nie; Neil Diamond se weergawe is baie beter.

“Forever in blue jeans” was ook een van Neil Diamond se latere treffers in Suid-Afrika, en hierdie keer klink JJ se opname baie goed. “I’m a believer” was die eerste komposisie van Neil Diamond wat ’n internasionale treffer geword het; dit was ’n nr. 1-treffer vir The Monkees in 1966. JJ sing dit hier saam met Ernie Bates, die vervaardiger en regisseur van die album.

“Beautiful noise” was ongelukkig nie die groot treffer wat dit moes wees nie, maar dit was een van Neil Diamond se bestes. Die oorspronklike weergawe is beter as hierdie een. Die laaste snit is “Morningside”, ’n byna vergete treffer wat ook al deur Alan Garrity en Johan Stemmet opgeneem is. Dis goed dat JJ hierdie snit ingesluit het – dit is steeds mooi en die woorde laat ’n mens dink.

Die vraag is nou of ’n mens hierdie album kan aanbeveel. Dit is nie so maklik om te sê nie, want dit hang van jouself af. Aan die een kant is Neil Diamond so ’n legende dat sy musiek vir sekere mense mooi bly, maak nie saak wie dit sing nie. Daar is egter al kunstenaars wat dit beter gedoen het, veral Steve Hofmeyr. Daarby is dit veel beter om na die oorspronklike kunstenaar te luister, as na iemand wat sy musiek probeer sing.

Hier is ‘n klankgreep van die oorspronklike weergawe van een van Neil Diamond se snitte, “Morningside”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Pietie ·

Ek is bevrees hierdie resensent is te gaaf met JJ Stephens. Die man is nie eers ‘n has-been nie, hy is ‘n never-was. En ek bedoel dit op die opregste manier moontlik.

Liza ·

Ag Pietie, as jy nie eers jou regte naam kan gebruik nie, dink ek nie jy kan ‘n opinie hê oor enige iets nie. Moenie van dinge praat wat jy niks van weet nie. Bly by jou Jannie en Pietie grappies.

whos who ·

A 30 year music career in RSA says it all and he is STILL GOING STRONG… What more can I say.

Liza ·

Hi Daantjie, ek voel net jy kon bietjie meer navorsing gedoen het oor JJ en sy jare in die musiekbedryf. Dink jy kon dalk ‘n meer volwasse aanslag hê oor so ‘n talentvolle kunstenaar. Glad nie beindruk met jou resensie nie.

Christelle Broodryk ·

Ek kan jou defnitief aanbeveel na ‘n baie goeie oorheelkundige, miskien is die woord bietjie groot vir jou (oor spesialis). Seer sekerlik moet jy jou maar bepaal waarmee jy goed is want duidelik is dit nie musiek nie. JJ se cd word defnitief aanbeveel…..julle sal nie spyt wees nie. Dit is wowwwwwwww.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.