[Resensie] Stephan Visagie – ‘Rondloper’

stephan-visage-rondloper

Stephan Visage. Foto: Youtube.com

Sedert Stephan Visagie se eerste CD, 4 Keeps, in 2013 verskyn het, het hy homself as ʼn uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer gevestig.

Sy gewildheid het veral met sy tweede album, Wie is jy?, toegeneem. Sy treffersnit, Beter helfte, het die nr. 1-posisie op Groot FM se Groot 20 gehaal. Daarby het hy ook ʼn benoeming as Bok Radio se Kunstenaar van die Jaar-toekenning losgeslaan.

Nou is hy terug met sy nuwe album, Rondloper. Stephan vertel hy het omtrent ʼn jaar lank aan die album gewerk. Hy skryf nie hordes liedjies nie, maar skaaf eerder aan ʼn paar totdat hy tevrede is daarmee. Volgens hom moet ʼn liedjie se woorde met hom praat. Hy stel ook belang in wat sy liedjieskrywersvriende doen en vra of hy van hul liedjies kan gebruik.

Die eerste snit op die album is “Al hierdie vrae”, wat ook op sy vorige album verskyn het. Stephan vertel iemand het gesit en luister terwyl hulle die volgende snit, “Êrens”, opgeneem het, met ʼn traan in sy oog. Daarom hoef ʼn mens niks verder te sê nie en hierdie liedjie het beslis die potensiaal om ʼn treffer te word.

Die eerste enkelsnit van die album, “Sleutel van my hart”, is reeds besig om ʼn treffer op sommige radiostasies te word. Hy wou ʼn opvolg vir sy treffer “Beter helfte” skryf wat ʼn pop-liefdesballade is sonder die woorde “bokkie” of “baby”.

Daarteenoor is “As ek kon” ʼn amperse dans-snit, hoewel die ritme dalk effens deurmekaar is. Stephan het die album by Ernie Bates se ateljee opgeneem en Ernie sing die titelsnit saam met hom. Die enigste snit op die album wat nie oorspronklik is nie, is David Scobie se groot treffer “Gypsy girl”.

Stephan kan net so goed in Engels as in Afrikaans skryf, soos hy op “No hit wonder” bewys. Hier wys hy ook dat hy in ʼn lae of hoë register kan sing. Dit is egter veral sy lae register wat baie goed klink.

“Gister se vuur” is nog een van sy eie Afrikaanse komposisies. Nie al die snitte op die album is Stephan se eie komposisies nie. Die woorde van “Kaapse dagboek” is deur Ronel Holtzhausen geskryf, terwyl Pauline Matthews dit getoonset het. Dit is seker een van die beste snitte op die album.

Nog ʼn baie goeie snit wat Stephan nie geskryf het nie, is “Brief”. Die woorde is geskryf deur Olga Leonard en Babette Viljoen het dit getoonset. Babette was ʼn paar jaar gelede betrokke by die verhoogproduksie “Ken jy ta’Mossie?”, wat onder meer by Aardklop te sien was.

ʼn Bonussnit is op die album ingesluit. Stephan is nou al vier jaar lank ʼn ambassadeur vir Ribbons4 Roses – ʼn organisasie wat plattelandse kinders met kanker en outisme bystaan – en hy het “Dromers” vir hulle geskryf.

Met hierdie album bewys Stephan hy is ʼn uiters talentvolle liedjieskrywer en sanger en dat hy verdien om nog gewilder te word as wat hy reeds is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ida Jordaan ·

Fantasties!!! Dankie vir die goeie resensie. Stephan is voorwaar ‘n uitmuntende kunstenaar. Ek hen hom persoonlik en kan getuig van sy mooi hart en plat op die aarde geaardheid.

Stoffel Harmse ·

Baie goeie resensie!! Ek stem saam Ida. Ons wat vir Stephan ken weet dat sy mooi hart en plat op die aarde geaardheid hom beslis ver in die bedryf gaan bring.

Ronel Winterbach ·

Baie dankie Stephan, sonder jou uitmuntende stem sou my woorde soveel minder gewees het!

lenie visagie ·

Baie dankie Maroela Media. Stephan baie geluk met nog ‘n puik cd. Ek hoop daar kom nog baie sulke goeie en mooi liedjies uit jou pen. Doen so voort!

Annali Harmse ·

Dankie Maroela nuus vir die resensie. Al sy liedjies vertel ‘n verhaal. Dit maak vir baie mense sin omdat hulle dit ervaar het. Alhoewel ” Sleutels van my hart” die liedjie is wat tans orals naam maak is “Erens” vir my uitstekend. Dankie aan Stephan wat sy pragtige stem met ons deel.

Mart de Wet ·

Stephan verdien verseker al die lof wat hom toegeswaai word – hy is ‘n uitstekende kunstenaar en ‘n wonderlike plat op die aarde mens…..Stephan Visagie is 4Keeps, dit is verseker!

Mart de Wet ·

Stephan verdien al die lof wat hom gegee word..hy is ‘n uitstekende kunstenaar met die mooiste stem…verseker is hy 4Keeps!!!!!

antionette v nel ·

Baie dankie vir die goeie resensie vir Stephan Visagie, hy is ‘n uitstekende kunstenaar en verdien net die beste. Stephan Visagie gaan net van krag tot krag en bereik elke jaar groter hoogtes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.