Resensie: “Stop wag bly nog ʼn bietjie”- Brendan Peyper

Brendan-Peyper

Brendan Peyper. Foto: Facebook.

Dit gebeur selde dat ʼn splinternuwe kunstenaar die publiek met net een liedjie kan oorrompel, maar dit is presies wat Brendan Peyper reggekry het.

Nie net was sy eerste treffersnit, “Stop, wag, bly nog ʼn bietjie” ʼn groot treffer op die meeste radiostasies nie, die musiekvideo is ook al meer as 350 000 keer op You Tube gekyk, ʼn byna ongehoorde prestasie deur ʼn nuweling op die musiektoneel. Sedert hierdie snit op die versamelalbum Treffer na treffer volume 7 verskyn het, het almal vir sy debuutalbum gewag en die goeie nuus vir sy aanhangers is dat dit nou ook die titelsnit van sy debuutalbum is.

Daar is seker niks meer om oor die titelsnit te sê as wat daar reeds gesê is nie, behalwe dat dit een van die grootste treffers van die jaar deur ʼn nuwe kunstenaar is. Soos die titelsnit is “Die perfekte een vir my” deur onder meer Brendan self en Neil Schoombee geskryf en dit is beslis ʼn snit wat verdien om ʼn treffer te word. Ray Dylan sing “Hierdie skoen gaan pas” saam met Brendan; dit verskyn ook op Ray se jongste album.

“Tafelberg vir twee” is die huidige treffersnit en verskyn deesdae op die trefferlyste van omtrent alle radiostasies landwyd. Brendan kom van Bloemfontein, maar hy het “Beautiful in Bloemfontein” nie self geskryf nie, wat effens eienaardig is.

“10 uit 10” is ʼn lekker snit wat Brendan saam met Neil Schoombee geskryf het. “Jong liefde sal ons jonk hou” is ʼn spanpoging tussen Brendan, Neil Schoombee, Adolf Vorster en Pierre Rossouw en is weereens ʼn snit wat trefferpotensiaal het.

Roux Cloete het die volgende snit, “Langpadmens”, geskryf. Hy en sy vrou, Christi, stel binnekort hul debuutalbum vry. Hierdie snit is een van die bestes op die album en ʼn mens hoop dit word gereeld oor die radio gehoor. Brendan het “Gebreektehartsvallei” geskryf en dit is dalk die regte liedjie om iemand wat neerslagtig is, mee op te beur. Die volgende snit, “ʼn Boeredrukkie vir ʼn Boeremeisie”, is een van die hoogtepunte van die album, want hierin sing hy van ʼn man wat niks anders vir ʼn meisie kan gee as sy liefde nie.

Daar is twee Engelse snitte op die album; die eerste een is “19 You+me”, ʼn lekker country-snit wat oorspronklik deur Dan Shay gesing is. Brendan kan gerus meer gereeld country sing.  Die volgende snit, “Soen my”, is weer ʼn spanpoging tussen Brendan, Pierre Rossouw, Adolf Vorster en Neil Schoombee.

“Dan val ek op my tong” is nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word, veral omdat dit by sy teikenmark byval sal vind. “Nothin’ like you” is nog ʼn internasionale country-snit wat hy besluit het om op te neem. Dis goed dat plaaslike kunstenaars hedendaagse country-musiek aan Suid-Afrikaanse gehore bekendstel, maar dit sou nog beter wees as die oorspronklike kunstenaars eerder sukses met hul eie musiek kan behaal. Die laaste snit, “Ek sal by jou staan”, het ook ʼn effense country-klank, maar net in Afrikaans.

Dis maklik om te verstaan waarom Brendan so gou gewildheid verwerf het. Goed, dit is veral jong meisies wat hom gebring het waar hy vandag is, maar dit beteken nie dat sy musiek nie by ʼn groter gehoor byval kan vind nie. Daar is baie snitte op hierdie album wat treffers kan word en daarom kan dit, veral vir jong luisteraars, baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Z bc ·

Hiérdie jong man gaan nog baie treffers uitbring. Vir ‘n seun wat verlede jaar in matriek was en soveel positiewe kommentaar kry, wag daar ‘n groot verrassing op ons. Go Brendan!!!! Bloemfontein staan bankvas agter jou!!!! :)

Libbie ·

Dis ‘n ongelooflike nice ou met soveel talent. Wow dis lekker om nuwe bloed in ons musiek in te pomp! Go Brendan! Die CD is soooo elke sent werd

Vissie ·

Ek het hierdie cd vir my 17 jarige dogter gekoop want sy is gaan oor Brendan! Maar due beste van als is dat ek nou luister na die cd en vind dat elke liedtjie n voltreffer is! Vir die wat nog nie die cd het nie se ek” kry hom sou gou moontlik!!!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.