Resensie: Storieboekprins – Samy

Samy-Storieboek-prins

Samy se nuwe album, Storieboekprins. Foto: Samy se Facebook-blad.

Drie jaar het verloop sedert Samy haar eerste album, 7 uur girl vrygestel het. Die groot treffer op hierdie album was haar weergawe van Irene van Wyk se treffer “In die middel”, wat ook met ʼn goeie musiekvideo gepaard gegaan het. Nou is sy terug met haar tweede album, Storieboekprins.

Die eerste snit op die album is “Cupid”, ʼn komposisie van Johan Theunissen en die regisseur en vervaardiger van die album, die Groot FM-omroeper Kevin Pienaar. Ongelukkig word daar nêrens gesê wie saam met haar sing nie.

Johan en Kevin het ook saamgespan vir die volgende snit, “Liqourice en lollipops”.  Dit is ʼn snit wat veral by jonger luisteraars byval sal vind en die dansvloere gou vol sal kry. Die eerste treffersnit is “Verlede liefde”, wat Samy saam met Johan en Kevin geskryf het.  Dit is ʼn bietjie rustiger as die vorige twee snitte en dit behoort ʼn treffer vir haar te word.

“Ek sien jou” is Samy se eie komposisie en weereens is dit ʼn lekker snit wat ʼn treffer kan word. “Cinderella” is ʼn baie mooi snit wat byval sal vind by enigiemand wat van sprokiesverhale hou.  Johan Theunissen het die pragtige snit “Branders” saam met Graham Abrahams geskryf en op hierdie snit bewys Samy dat sy tot meer as dansliedjies in staat is.  “Hals oor kop” is nog ʼn baie lekker snit wat ʼn treffer behoort te word.

Die titelsnit is ʼn komposisie van Anzuel van Heerden en weereens is dit ʼn snit wat by jonger luisteraars byval sal vind, maar hierdie keer meer as gevolg van die lirieke as die musikale verwerking.

Die musikale verwerking van “Dans met my” herinner ʼn bietjie aan dié van One Republic se treffer “Love runs out”.  “Witsand” gaan volgens Samy oor ʼn leefstyl eerder as ʼn dorp, oor ʼn lewe sonder tegnologie en die uitdagings wat jongmense in die gesig staar.

“Bittereinder” is ʼn baie mooi snit waarop Samy haar vokale talent baie goed tentoonstel.  “Soen my” is ʼn baie lekker snit wat hopelik baie radiolugtyd sal kry. Die laaste snit het die gepaste titel “Goodbye vir nou”. Samy se broer, Jacques, is ʼn paar jaar gelede op ʼn jong ouderdom oorlede, en hoewel dit nie gesê word nie, is hierdie liedjie sekerlik ʼn huldeblyk aan hom.

Soms duur dit ʼn rukkie voordat ʼn kunstenaar onder die publiek se aandag kom en dis nie altyd maklik om te verstaan hoekom nie.  Samy is een van daardie kunstenaars wat nog nie haar volle potensiaal bereik het nie, maar die kanse is goed dat sy dit met hierdie album sal regkry.  Samy is ʼn uiters talentvolle sangeres wie se musiek by oud en jonk aanklank sal vind en wat verdien om baie meer suksesvol te wees as wat dit tot dusver was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.