Resensie: Storm – Coffee Snobs

Coffee-Snobs-se-Storm

Coffee Snobs se debuutalbum Storm is nou beskikbaar. Foto: Verskaf.

Soms gebeur dit dat ʼn nuwe kunstenaar of groep ʼn liedjie vrystel wat onmiddellik ʼn groot treffer word en ʼn mens laat uitsien na ʼn debuutalbum.

Coffee Snobs het vroeër vanjaar vir die eerste keer onder die publiek se aandag gekom toe hul eerste enkelsnit, “Sê my”, vrygestel is, maar dit was eers toe hulle dit met “Eie land” opgevolg het, dat mense regtig van hulle kennis begin neem het. Nou is hul debuutalbum, Storm, eindelik beskikbaar en die vraag is of hulle op die sukses van laasgenoemde liedjie kan voortbou.

“Sê my” is die eerste snit op die album, en dis jammer dat dit reeds lankal radiolugtyd begin kry het omdat sy potensiaal om ʼn treffer te word, dalk effens ondermyn is  deur die feit dat niemand op daardie stadium van hulle geweet het nie. Die lirieke is reguit en eerlik en hulle draai beslis nie doekies om nie! Soos die meeste ander snitte op die album is dit ʼn komposisie van die hoofsangeres en kitaarspeler Venette Wessels.  Venette het ʼn baie goeie altstem waarna ʼn mens heeldag kan luister.

Die tweede snit is die eerste Engelse een, “I don’t cry”, wat ʼn lekker countryklank het en baie beslis verdien om gereeld oor die radio gehoor te word. Hierdie snit kan hulle onder die aandag bring van radiostasies wat nie in Afrikaanse musiek belangstel nie.

Dis maklik om te verstaan waarom “Eie land” so gewild geword het. Die musiekverwerking herinner effens aan dié van Timbaland en One Republic  se treffer “Apologise”, maar gelukkig is dié ooreenkoms net van verbygaande aard.

“Die storm” sal hopelik die volgende treffer word; die kitaarwerk daarop is uitstekend. Hierdie snit het ʼn effens Christelike aanslag, maar dit is ʼn goeie ding.  “Lucky” is nog ʼn uitstekende oorspronklike Engelse snit wat by ʼn groot gehoor byval behoort te vind.

Nog ʼn snit met ʼn Christelike inslag is “Skuiling”; weereens is dit ʼn snit met trefferpotensiaal. Daar is geen rede waarom ʼn Christelike snit nie ʼn treffer kan word nie. “Dromer” verwoord die ontnugtering van grootword baie goed; omtrent enigiemand sal hiermee kan identifiseer.

In “Your love” sing hulle van die verskil wat iemand wat jou liefhet, in jou lewe kan maak.  Die laaste snit, “Falling back”, is nog ʼn moontlike treffer; dis net jammer dat dit aan die einde van die CD voorkom.

Daar is deesdae min kunstenaars of groepe wat met werklik oorspronklike musiek vorendag kom en wie se musiek deurgaans van hoogstaande gehalte is.  Coffee Snobs is een van dié wat in hierdie kategorie val; hul woorde het baie meer om die lyf as dié van die gemiddelde radiotreffer en die musikale verwerkings op hierdie album is skitterend. Daarom is dit die moeite werd om hierdie album in die hande te probeer kry; dit is heel moontlik een van die heel beste debuutalbums wat in ʼn baie lang tyd vrygestel is!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.