Resensie: Storm op Jupiter – Lukas de Beer

Lukas-de-Beer

Lukas de Beer. Foto: Lukas de Beer se Facebookblad.

Hoewel daar gedurig nuwe kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel na vore tree, was daar die afgelope jaar nie veel van hulle om oor huis toe te skryf nie.

Een moontlike uitsondering is Lukas de Beer, wie se debuutalbum, Storm op Jupiter, verlede jaar verskyn het en vir hom ‘n Ghoema-toekenning as nuwe kunstenaar losgeslaan het. As ‘n mens na die eerste snit luister, kry jy al ‘n goeie idee van wat om te verwag . Die heel eerste snit op ‘n debuutalbum kan ‘n kunstenaar maak of breek, veral as dit ‘n bestaande liedjie is. Die ironie is dat Die weduwee se kruik, wat natuurlik deur Lucas Maree geskryf is en wat hy ook oorspronklik gesing het, die enigste snit op die album is wat Lukas nie geskryf het nie.

Hoe dit ookal sy, Lukas se opname is baie goed; tot so ‘n mate dat dit een van die treffers vanaf die album geword het en hy het Lucas Maree se nagedagtenis vereer met hierdie opname.  Die eerste oorspronklike komposisie op die album is Love is dangerous, die enigste Engelse komposisie op die album.

Met die eerste oorspronklike Afrikaanse komposisie op die album, Nooit alleen nie, kom jy agter dat hy ‘n baie goeie liedjieskrywer is.  Verlore seun is sekerlik geïnspireer deur die gelykenis in die Bybel; dit gaan oor ‘n man wat vryheid nagejaag het en gesien het dat dit nie was wat hy gedink het dit sou wees nie. Op die ou end het sy pa hom gevind.  Hier staan ek nou is nog ‘n goeie snit wat Lukas self geskryf het.

Die eerste treffer van die album was Storie, wat die eerste plek op minstens een radiostasie se trefferslys behaal het.  Bouwer Bosch en Simoné Nortman (wat die rol van Nadia in 7de Laan vertolk) is in die video te sien.  Die volgende snit, Ankers, is sekerlik  gebaseer op Mattheus 11:28, hoewel Jesus se Naam nie spesifiek genoem word nie.  Die titelsnit is een van die bestes op die album; dit het ‘n bietjie radiolugtyd gekry, maar dit was nie die treffer wat dit moes wees nie. Die laaste snit, By my, is gebaseer op Psalm 139 en een van die hoogtepunte op die album.

Dis eintlik jammer dat Lukas nou eers die erkenning as sanger en liedjieskrywer kry wat hy verdien. As ‘n mens na die omslagaantekeninge kyk, kom jy agter dat hy lankal liedjies skryf; die oudste snit op die album wat hy self geskryf het, is al vyf jaar oud. Hoe ook al, liewer laat as nooit, want hy het met hierdie album gewys dat hy een van ons land se bestes is. Hopelik sal dit nie lank duur voordat hy weer ‘n album vrystel nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.