Resensie: Strikdas, die filmklankbaan

Strikdas-rolprent

Foto: ‘n Skermskoot uit die lokprent van die rolprent, Strikdas.

Vroeër jare was rolprentklankbane baie gewild en dit het al dikwels in die verlede gebeur dat rolprente gewild geword as gevolg van die musiek wat daarin gebruik is.

Nogtans was daar tot dusver nog nie soveel Afrikaanse rolprente met sterk klankbane nie, met die moontlike uitsondering van Klein Karoo, Platteland, Semi-soet en Liefling.  Een van ʼn aantal nuwe rolprente wat vanjaar die lig sien, Strikdas, is nog een en die vraag is of die musiek tot die gewildheid van die rolprent gaan bydra.

Die eerste snit op die klankbaan is Klapsoen van Bouwer Bosch en Almarie du Preez. Bouwer het al bekendheid verwerf as hoofsanger van Straatligkinders, asook as solokunstenaar. Almarie is relatief nuut op die toneel en ʼn mens hoop om nog baie van haar in die toekoms te hoor.

Daar is net een Engelse snit op die klankbaan, naamlik Moments,van een van Suid-Afrika se voorste rock-groepe, Prime Circle. Glaskas se musiek was tot dusver hoofsaaklik gemik op liefhebbers van “alternatiewe” Afrikaanse musiek, maar met Die onvermoë kan hul gewildheid miskien verder toeneem.

Johan C. Venter het groot sukses behaal as lid van Flip a Coin en as solo-kunstenaar. Met jou hart is sy bydrae tot die klankbaan; hopelik beteken dit dat ʼn nuwe solo-album binnekort vrygestel sal word.

Ekhouvanjou,okaay is redelik nuut op die musiektoneel en met Ekskuus my sal die meeste mense vir die eerste keer met hul musiek kennis maak.  Hul musiek is egter hoofsaaklik op jonger luisteraars gemik.

Steve en Armand Hofmeyr se musiek word ook gebruik en hul onderskeie bydraes is Pampoen en Liggies. Daar is drie snitte van Dans Dans Lisa ingesluit; almal geskryf deur Bouwer Bosch en Deon Meiring. Die eerste een, Dwaas, is ʼn moontlike treffer.  Deon is ook die hoofsanger van Glaskas, maar Vingerafdrukke is een van sy solo-opnames wat ʼn treffer kan word.

Ses jaar later is Dans Dans Lisa se tweede bydrae tot die klankbaan en dit is weer ʼn snit wat dalk by jonger luisteraars byval sal vind. Len Muller is ʼn relatiewe nuweling op die musiektoneel, maar Smag na jou was al ʼn treffer op meer as een radiostasie. Daarom is dit goed dat dit eindelik op CD beskikbaar is. Die laaste snit op die klankbaan is Ons teen die wêreld, Dans Dans Lisa se derde bydrae.

Hoewel baie van die musiek uit die rolprent op ʼn jonger gehoor gemik is en dalk effens vreemd klink, is daar darem ook snitte wat by ʼn groter gehoor byval sal vind. Miskien sal die meer “alternatiewe” snitte ook meer radiolugtyd kry, maar ʼn mens moet maar wag en kyk of dit gewild gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.