Resensie: Tamboerynman – Koos van der Merwe

Koos-van-der-Merwe-sing-Bob-Dylan

Koos van der Merwe. Foto: Verskaf.

Dit was omtrent 20 jaar gelede wat Koos van der Merwe seker die eerste Afrikaanse Christelike “luisterliedjie”, “Houtkruis”, geskryf het en saam met sy eertydse sangmaat, Theo Geyser, saam met wie hy die groep Prophet gevorm het, gewild gemaak het.

Nadat Prophet ’n aantal albums uitgereik het, het hulle uiteengegaan, en twee jaar gelede het Koos sy eerste solo-album uitgereik. Hy het Leonard Cohen se musiek in Afrikaans vertaal, met Cohen se toestemming, en hierdie album het gemengde reaksie gelok. Daar was diegene wat vir die eerste keer met Cohen se musiek kennis gemaak het, maar daar was ook dié wat dit as heiligskennis beskou het.

Nou is hy terug met ’n soortgelyke album, en hierdie keer het hy besluit om die musiek van ’n kommersieel meer suksesvolle kunstenaar in Afrikaans te vertaal. Bob Dylan het veral sukses as liedjieskrywer behaal en baie van sy komposisies was groot treffers vir ander kunstenaars, veral in die 1960’s. Die titelsnit van die album, “Tamboerynman”, is die Afrikaanse weergawe van “Mr Tambourine Man”, wat ’n groot treffer vir The Byrds was. Matthys Maree se musikale verwerking op hierdie snit is half eiesoortig, en Koos probeer nie om soos Dylan of The Byrds te klink nie. Die lirieke is egter getrou aan dié van die oorspronklike.

“In die somertyd” is die Afrikaanse weergawe van “In the Summertime”, ’n minder bekende liedjie wat Dylan in die 1980’s geskryf het. “Blowing in the Wind” was seker een van Dylan se bekendste komposisies en dit was ’n treffer vir verskeie kunstenaars. Koos se Afrikaanse weergawe klink baie goed, en weer is die woorde na aan dié van die oorspronklike.

“To Make You Feel My Love”, wat Koos as “Dat jy my liefde voel” vertaal het, is een van Dylan se mees onlangse komposisies wat gewild geword het, onder meer vir Billy Joel wat, ironies genoeg, natuurlik self ’n goeie liedjieskrywer is. Koos se weergawe klink baie goed. Op “O suster” sing Liesl du Toit, wat vroeër jare lid van Shine 4 was, saam met Koos. Soos “O suster” is “Romanse in Durango” (“Romance in Durango”) in 1975 geskryf, en dit klink asof hy en Liesl weer saam sing.

“Hy was ’n vriend van my” (“He Was a Friend of Mine”) is seker een van Dylan se oudste komposisies. “The Times They are a-Changing” is een van Dylan se bekendste treffers, en Koos se Afrikaanse weergawe klink nie sleg nie.

“Ring them bells” kom uit die laat 1980’s. Koos se Afrikaanse weergawe is “Laat die klokke lui”, en weer eens het Koos getrou aan die oorspronklike weergawe gebly. Die musiekverwerking is ook baie goed. “Love Minus Zero” was ’n treffer vir die Suid-Afrikaanse groep The Dream Merchants, waarvan Billy Forrest ’n lid was. Koos sing die Afrikaanse weergawe, “Liefde minus zero”, in ’n lae register en dit sal vir sommige mense klink asof hy praat.

Koos se weergawe van “Every Grain of Sand”, “In elke korrel sand”, is nie noodwendig ’n direkte vertaling nie, maar die boodskap is dieselfde. Koos gee “I Believe in You”, wat hy in Afrikaans as “Ek glo in U” vertaal het, ’n Christelike boodskap. Ek weet nie of dit Dylan se oorspronklike bedoeling was nie.

“Skuiling teen die storm” is die Afrikaanse weergawe van “Shelter from the Storm”, en ook hier het Koos nie te veel van die oorspronklike lirieke afgewyk nie. Die laaste snit is “Orals by die wagtoring”, die Afrikaanse weergawe van “All Along the Watchtower”, wat onder meer vir Jimi Hendrix ’n treffer was. Omdat dit so bekend is, sal die meeste mense dalk met ’n meer kritiese oor daarna luister, maar Koos slaag die toets.

Op die ou einde moet jy self besluit wat jy van hierdie album dink. As jy ’n groot Dylan-aanhanger is, sal dit jou dalk walg, omdat ’n mens nie sommer die werk van so ’n groot kunstenaar behoort te vertaal nie. Aan die ander kant kan dit beteken dat meer mense aan Dylan se musiek blootgestel word en dat hulle die werk van een van die legendes van die internasionale musiekbedryf ontdek. As dit gebeur, het Koos in sy doel geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie Myburgh ·

Koos is een van ons land se Groot kunstenaars en saam met Matthys Maree is dit ñ groot vreugde om na sulke werk te luister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.