Resensie: Te goed om waar te wees – PJ Cruz

PJ-Cruz

PJ Cruz. Foto: PJ Cruz se Facebookblad.

Hoewel die meeste mense nog nie van PJ Cruz gehoor het nie, is hy allesbehalwe ’n nuweling op die Afrikaanse musiektoneel.

Hy het reeds drie albums vrygestel, maar het onlangs ’n kontrak by een van Suid-Afrika se grootste platemaatskappye gekry, en sy vierde album, Te goed om waar te wees, is pas uitgereik.

Die titelsnit is ’n komposisie van Johan Oberholzer, wat al treffers vir kunstenaars soos Kurt Darren en Nadine geskryf het, en weereens is dit ’n snit wat baie gewild kan word. Murray Lubbe was die vervaardiger van die album, en hy en Ampie du Preez het “Spoorloos verdwyn” saam met PJ geskryf. “Wat die platteland vir my gee” sal veral op gemeenskapsradiostasies gewild wees; dit is ’n spanpoging van PJ saam met Christoph Kotze, Danny Smoke en Murray Lubbe. “Oud raak saam met jou” is een van die moontlike treffers van die album; nie net danksy die lekker wysie nie, maar ook die slim liriek. Johan Oberholzer het weereens met ’n wenner vorendag gekom.  Ampie du Preez het “Seisoene”, een van die rustiger snitte op die album, geskryf, en dit is ’n snit wat radiolugtyd verdien. As daar een snit is wat die dansvoete gaan laat jeuk, is dit “Klippies en Cola” wat PJ saam met Ampie du Preez geskryf het.

“As Afrika jou roep” is presies die teenoorgestelde – dit is een van PJ se oorspronklike komposisies wat bewys dat hy ook liriek met inhoud kan skryf.  Nog ’n snit wat Johan Oberholzer geskryf het en regtig iets om die lyf het, is “Frommel op en begin weer”. Johan het ook die volgende snit, “As die wêreld sou vergaan”, geskryf, en dit is glad nie so swartgallig as wat dit klink nie. “Boesmanboudjies” is nog ’n snit wat hoofsaaklik op die dansbaan gemik is, en die woorde hoef nie ernstig opgeneem te word nie. “Sonder jou” is die laaste Afrikaanse snit op die album. Christiaan van Zyl en Murray Lubbe het dit saam geskryf, en dit is nog ’n moontlike treffer. Die heel laaste snit op die album, “The story”, was ’n treffer vir Brandi Carlile, en is ook al deur Touch of Class opgeneem.

Daar is geen twyfel dat PJ saam met ’n paar van ons land se beste liedjieskrywers en vervaardigers gewerk het nie, en dit gaan sy loopbaan ’n enorme hupstoot gee. Hierdie album bevat ’n verskeidenheid snitte wat in die meeste mense se smaak behoort te val, maar ’n mens kry nooit die indruk dat daar enige vorm van selfverraad voorkom, of dat daar ’n besliste poging is om almal tevrede te stel nie. Daar is min kunstenaars wat musikale integriteit nastreef, en te oordeel na hierdie album, lyk dit of PJ een van hulle is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.