Resensie: ‘The beautiful collection’ – Rocco de Villiers

Rocco-de-Villiers-2

Rocco de Villiers is beslis Suid-Afrika se klavierkoning. Foto: Rocco de Villiers se Facebookblad.

Sedert sy album Beautiful beautiful piano ‘n paar jaar gelede verskyn het, het Rocco de Villies hom as seker ons land se gewildste, en beste, klavierspeler gevestig.

Hoewel hy al lank op die musiektoneel is, was hierdie album sy groot deurbraak, en mense het regtig eers met die bekendstelling daarvan van hom kennis begin neem. Sedertdien het hy nog drie albums vrytestel, naamlik More besutiful piano, Stunning en sy mees onlangse album, Country keys, wat vir vanjaar se Ghoema-toekennings benoem is en ‘n goeie kans het om as die beste instrumentale album van die jaar bekroon te word.

Nou het hy besluit om ‘n versamelalbum met die gewildste snitte op bogenoemde albums vry te stel; met die gepaste titel The beautiful collection. Die snitte op die album is in ses kategorieë ingedeel. Die eerste ses snitte is Rocco se eie komposisies. Kla-1, Kla-2, Kla-3, Kla-4 het op die album Stunning voorgekom en moes eintlik ‘n groter treffer gewees het as wat dit was. Net so vrolik as wat dié snit is, so rustig is Anna Aeroplane. Dit is goed dat Rocco sy veelsydigheid as pianis en komponis so vroeg al ten toon stel. Nog ‘n pragtige komposisie wat Rocco by hierdie versameling ingesluit het, is You are, I am, we are. Die volgende snit is die titelsnit van die album Stunning, weer eens ‘n goeie komposisie. Een van die hoogtepunte op die hele versameling is Roccobilly, wat op die Country keys-album voorgekom het.

Die volgende vier snitte op die album is temas uit rolprente. Forrest Gump het twintig jaa gelede die Oscar-toekenning as die beste rolprent gewen, en die klankbaan het heelwat groot Amerikaanse treffers tussen die 1950’s en die 1980’s bevat. Rocco het die instrumentale tema, wat aan die begin van die rolprent voorkom, ingesluit. Een van die heel bekendste instrumentale rolprent-temas was Vangelis se Chariots of fire, wat ‘n groot internasionale treffer was. Daarom is dit geen verrassing dat Rocco dit by hierdie versamleling ingesluit het nie. Gabriel’s oboe is deur Ennoi Morricone gekomponeer, en dit kom uit die rolprent The mission. What a wonderful world was ‘n internasionale nr. 1-treffer vir Louis Armstrong; dit is nie aanvanklik vir ‘n rolprent geskryf nie, maar dit het tog in Good morning Viëtnam voorgekom. Twee treffers uit musiekblyspele is volgende, naamlik Edelweiss uit The sound of music en die Andrew Lloyd Webber-komposisie Love changes everything uit Aspects of love. Die eerste “klassieke” snit is Richard Clayderman se bekende Ballad for Adeline, wat sekerlik deel van enige pianis se repertorium uitmaak. Andrea Bocelli en Sarah Brightman het ‘n groot treffer met Time to say goodbye, en dit vind sekerlik groot byval by Rocco se teikengehoor. Niemand sou seker kon dink dat ‘n treffer van ‘n heavy metal-groep op ‘n klavier gespel sou kon word nie, maar dan is Stairway to heaven van Led Zeppelin nie só swaar nie. As dit hul ander treffer, Whole lotta love was, sou dit dalk die wenkbroue gelig het. Elton John is seker een van die bekendste sangers wat ook klavier speel, en Sacrifice was een van sy grootste treffers. Een van die heel bekendste klavier-treffers was Frank Mills se Music box dancer; gelukkig speel Rocco dit reg, want daar is ‘n weergawe waarop die gesinkopeerde note verkeerd gespeel word (dié wat iets van musiekteorie weet, sal dit verstaan). Daar is twee country-snitte op die album. Tom Jones het ‘n groot treffer met Green green grass of home gehad; dié snit is aanvanklik op die Stunning-album ingesluit. Die ander “country-snit” is Jim Muller se keurspel nr. 1. Jim Muller was een van ons land se bekendste en gewildste klavierspelers, en dis goed dat Rocco aan hom hulde gebring het. Die laaste twee snitte (behalwe vir die bonussnit) is You raise me up van Josh Groban en die bekende Hoe groot is U. Die laaste snit, wat as bonussnit aangedui word, is ‘n lekker “remix” (by gebrek aan ‘n Afrikaanse woord) van Music box dancer.

Daar is ook ‘n DVD met ses musiekvideo’s by die CD ingesluit, onder meer van Music box dancer, You raise me up, Chariots of fire en Edelweiss. Die laaste twee snitte verdien egter spesiale vermelding. Op die musiekvideo van Kla-1, kla-2, kla-3, kla-4, wat hieronder gesien kan word,vertolk die aktrise Elize Cawood die rol van ‘n musiekonderwyseres wat vir ‘n jong Rocco klavierlesse gee en later een van sy konserte bywoon. Die laaste musiekvideo is van die Jim Muller-keurspel.

Met hierdie versameling bewys Rocco dat hy inderdaad verdien om as ons land se beste pianis bekend te staan, en dat sy gewildheid niemand behoort te verbaas nie. Hopelik maak dit dat hy nog baie nuwe aanhangers sal bykry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.