Resensie: Toe staan die wêreld stil – Juanita du Plessis

Juanita-du-Plessis

Juanita du Plessis. Foto: Juanita du Plessis se Facebookblad.

Nadat Juanita du Plessis die afgelope jaar of wat hoofsaaklik op country-musiek gefokus het, het sy besluit om terug te keer na die een musiekgenre wat haar in die eerste plek gewild gemaak het, naamlik kommersiële Afrikaanse musiek.

Haar jongste Afrikaanse album, Toe staan die wêreld stil, is pas uitgereik, en die vraag is of sy dieselfde sukses gaan behaal as met haar vorige albums. Die eerste snit is een van haar eie komposisies, “Lief vir jou”, wat reeds besig is om ’n groot treffer te word. Die liriek van “Ware vriende” laat ’n mens dink aan dit waaroor vriendskap veronderstel is om te gaan. “Bietjie meer van alles” is ’n lekker snit wat een van die treffers van die album kan word. Die meeste mense sal hulle met die liriek van die titelsnit kan vereenselwig; dit het seker al met almal gebeur. “Alles wat daar was” is die presiese teenoorgestelde, en enigiemand wat al ’n geliefde verloor het, hetsy deur ’n gebroke verhouding of ’n egskeiding, sal presies weet waarvan sy sing.

Daar is één liedjie op die album wat die potensiaal het om ’n reusetreffer te word. Juanita moes baie kritiek verduur weens liedjies soos “Ska-rumba” en “Patayo”, maar sy het lank laas ’n soortgelyke liedjie geskryf of opgeneem. “Hambamba” val in dieselfde kategorie as dié twee liedjies, en dit sal mense onmiddellik laat saamsing en dans.

Soms gebeur dit dat mense wat mekaar liefgehad het, niks meer het om oor te praat nie, en “Wat het van ons geword” verwoord dit baie goed. “Gister is verby” sluit hierby aan, behalwe dat daar hoop ter sprake is. “Net ’n mens”, nog een van Juanita se eie komposisies, is een van die mooiste snitte op die album. Die volgende snit is ’n verrassing. Brenda Fassie het ’n groot treffer oor kultuurgrense gehad met “Vulindlela”. Sunette Bridges het die Afrikaanse woorde geskryf en dit “Voel my” genoem. Sunette het dit ook oorspronklik in Afrikaans opgeneem, maar nou het Juanita besluit om dit op hierdie album in te sluit. Hopelik sal dit van voor af ’n treffer word!

Juanita het al baie liedjies met inspirerende lirieke geskryf, en “Aanhou om aan te hou” is nog ’n voorbeeld hiervan. “Hou op soek” is ’n lekker snit; enigiemand wat so hard probeer om “die regte een” te kry, kan gerus na die woorde luister! Juanita het voorheen al gereeld saam met Stass gewerk, en hy het die pragtige “Sterreveld-serenade” saam met haar geskryf.

Juanita se laaste eie komposisie op die album is “Jy groei op my”, nog ’n moontlike treffer. Rudi Claase het een snit op die album geskryf, naamlik die pragtige snit “Langenhoven”. Die laaste snit is “Ek sal”, wat deur Johan Oberholzer geskryf is en wat Juanita saam met Theuns Jordaan sing. Dit was ’n groot treffer toe dit aan die begin van verlede jaar vrygestel is, maar omdat hierdie album Juanita se eerste Afrikaanse album sedertdien is, is dit as bonussnit ingesluit.

Met hierdie album wys Juanita weereens waarom sy een van Suid-Afrika se gewildste sangeresse is. Daar is ’n verskeidenheid snitte op die album wat net weer wys dat Juanita die vermoë het om met dieselfde oorgawe laf en ernstig te wees. Dit is een van die belangrikste redes hoekom sy deur die jare steeds ’n gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers is. Hierdie album gaan ’n reusesukses wees, net soos wat soveel van haar voriges was!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Peet

Dit is nogal ‘n gewigtige stelling. Ek wysig die berig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.