[Resensie] Treffer na treffer volume 8

treffer-na-treffer-8

Treffer na treffer volume 8. Foto: Verskaf.

As daar een soort CD is waarvoor daar altyd ʼn mark in Suid-Afrika sal wees, is dit ʼn versameling treffers deur verskeie kunstenaars. Een van die suksesvolste reekse versamelings in Suid-Afrika tot dusver was Treffer na treffer en die agtste volume in hierdie reeks is onlangs vrygestel.

Die eerste snit op die eerste CD van hierdie dubbele versameling, is die eerste enkelsnit van 4 Werke se jongste album, naamlik “Jy slaan die wind in my seile”. Francois van Coke en Karen Zoid se musiek is nie noodwendig op die kommersiële mark gemik nie, maar “Toe vind ek jou” het ʼn groot treffer geword.

Nog ʼn groep wie se musiek dalk op ʼn meer alternatiewe gehoor gerig is, is Die Heuwels Fantasties, maar “Sy” is besig om ʼn groot treffer te word. Die groep, Twee, bestaan uit Herman Kleinhans en Maria Rademan-Viviers, wie se pa, Johan Rademan, ʼn bekende radio-omroeper is. Herman het “Ek sweer” geskryf en dit was die wenner van die AfriVisie-liedjiekompetisie van verlede jaar.

Andriëtte se jongste album het al ʼn spul treffers opgelewer, onder meer “Mag hy”, wat sy geskryf het na aanleiding van die dood van die bekende wynmaker, Beyers Truter, se vrou. Kurt Darren was ʼn ateljeegas in die vorige reeks van Karen Zoid se geselsprogram, Die republiek van Zoid Afrika en hulle het haar treffer “Engel” en sy treffer, “Hemel op Tafelberg”, saam gesing. Hierdie keurspel is op dié album ingesluit.

Adam Tas se jongste album is onlangs vrygestel, maar “Reën” is een van sy vorige treffers. Een van die gewildste nuwe kunstenaars tot dusver vanjaar is Refentse, wie se debuutalbum ʼn blitsverkoper is. “Baby wat eet ons vanaand?” was die eerste enkelsnit van dié album en was ʼn treffer op feitlik elke radiostasie in die land.

Nog ʼn jong kunstenaar wat al groot hoogtes bereik het, is Brendan Peyper en “ʼn Boeredrukkie vir my Boeremeisie” was een van die treffersnitte van sy debuutalbum. Nagligte se debuutalbum is verlede jaar vrygestel en “Dit stop nou” was die eerste enkelsnit. Dit is op ʼn alternatiewe gehoor gemik, maar het tog radiolugtyd gekry.

Neil Somers het vroeër vanjaar sy eerste album in ʼn lang tyd vrygestel en “Eendag op ʼn reëndag” het ʼn groot treffer geword. Heuning het verlede jaar vir die eerste keer saam met die sangeres en liedjieskrywer, Carla Oberholzer, gewerk en “Drome” was tot dusver die grootste treffer wat sy vir hulle geskryf het.

Die laaste drie snitte op die album is almal ʼn bewys dat musiek van goeie gehalte ook kommersieël toeganklik kan wees. Jacques Terre ‘Blanche het aan die eerste reeks van Idols deelgeneem en nadat hy lank net Engels gesing het, het hy besluit om Lucas Maree se treffer, “Droomvrou”, op te neem. Dit het ʼn groot treffer geword en dit lyk asof hy al hoe meer Afrikaans gaan sing.

Joshua Na Die Reën het omtrent twee jaar gelede tot die musiekbedryf toegetree en “Lig op die horison” het by musiekliefhebbers van alle ouderdomme byval gevind.  Len Muller se debuutalbum het teen die einde van verlede jaar verskyn en “Smag na jou” was die eerste enkelsnit van daardie album.

Die tweede CD begin met Andriëtte en André Venter se duet, “Tot oneindig einde kry”. Nog ʼn duet is “Harte van glas” van Gerhard Steyn en Anaïs. Hulle kan gerus meer gereeld saam sing, want hul duetalbum, wat omtrent twee jaar gelede verskyn het, was regtig baie goed.

Deon Groot se “Bietjie liedjie” is ʼn goeie snit, maar sy trefferpotensiaal is ondermyn deur die feit dat Deon nog nie ʼn album vrygestel het nie. Dit is ook moeilik om dié snit in die hande te kry. Dieselfde geld “Miljoene druppels”, die nuwe enkelsnit van Liezel Pieters.

Juandré Marais is nog redelik nuut op die musiektoneel, maar “Kyk hoe val die reën”, die titelsnit van sy debuutalbum, was sy eerste groot treffer. Rymstoff is seker een van die beste nuwe groepe wat vanjaar op die toneel verskyn het en “Hartvlinders” was ʼn treffer op verskeie radiostasies.

Amor Vittone het verlede jaar vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer ʼn nuwe album opgeneem en “Sprei my vlerke” was ʼn treffer op ʼn paar radiostasies. Fredi Nest is in Julie verlede jaar oorlede, maar hy het ʼn hele aantal trefferliedjies geskryf en opgeneem, onder meer “Net in Afrikaans”.

Pierre Rossouw was die wenner van die werklikheidsreeks Ons soek die sanger en “Sing ʼn ding” was die eerste snit van sy tweede album, wat verlede jaar verskyn het. Ongelukkig het dié snit nog nie sy trefferpotensiaal verwesenlik nie.

Bouwer Bosch en die Jam-aanbieder, Almarie du Preez, het saamgespan vir “Klapsoen”, die temaliedjie van die rolprent Strikdas. Die laaste snit op die album is ʼn instrumentale weergawe van Bobby van Jaarsveld se treffer, “ʼn Vrou wil dit hoor”.

Soos gewoonlik bied hierdie versameling iets vir elke smaak. Daar is snitte waaroor jy mal sal wees en ander waarvan jy nie sal hou nie, maak nie saak wat jou musiekvoorkeur is nie. Daarom behoort dit net so gewild soos die vorige volumes in hierdie reeks te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.