[Resensie] Treffers van die 00’s

treffers-van-die-00s

Foto: Verskaf.

Die afgelope paar maande het een van ons land se grootste platemaatskappye vorendag gekom met versamelalbums wat treffers van sekere dekades bevat.

Treffers van die 80’s en Treffers van die 90’s is reeds uitgereik, en nou is dié twee versamelings opgevolg met Treffers van die 00’s; ’n dubbele versameling van plaaslike en internasionale treffers van die afgelope vyftien jaar.

Toe Lady Gaga in 2009 op die toneel verskyn het, was sy onmiddellik gewild, maar ook omstrede. “Pokerface” was een van die groot treffers in haar debuutalbum.

Die eerste Afrikaanse snit in die album is “FM Stereo”, een van Steve Hofmeyr se beste, en grootste treffers die afgelope tyd.

Dit gebeur soms dat ’n broer en suster albei tot die musiektoneel toetree en gewild word. Een voorbeeld is Daniel en Natasha Bedingfield wat van Australië afkomstig is. Natasha het ’n paar treffers gehad, onder meer “These Words” en “Unwritten”, maar nie een daarvan is ingesluit nie. Met Daniel is dit egter ’n ander saak. Sy treffer “If You’re not the One” is ingelsuit.

Francois van der Merwe het om en by 2005 onder die verhoognaam Adam Tas begin sing en sy gewildheid het deur die jare net toegeneem. “Is dit hoe die hemel lyk?” is seker sy grootste treffer tot dusver, en dis goed om dit in hierdie versameling te sien.

Leona Lewis het ’n groot deurbraak met haar eerste treffer “Bleeding Love” gemaak. Sy het die talentkompetisie The X Factor gewen en sodoende ’n kontrak losgeslaan vir ʼn  debuutalbum. Met hierdie snit het sy die eerste Britse vrouekunstenaar in 21 jaar geword wat die eerste plek op die gesaghebbende Amerikaanse Billboard Hot 100 kon bereik.

Steve Hofmeyr is natuurlik nie net bekend as sanger nie, maar ook as liedjieskrywer. Hy het byvoorbeeld “Napoleon (Hoekom bly jy staan?)” vir Andriëtte geskryf en dit het een van die groot treffers in haar debuutalbum geword.

Kurt Darren het een onsuksesvolle album na die ander vrygestel voordat hy eindelik met “Meisie meisie” vorendag gekom het. Die snit wat hier ingesluit is, is egter “Loslappie”, een van die treffers van sy trefferalbum Sê net ja.

Heinz Winckler het in 2002 die eerste Suid-Afrikaanse Idols-wenner geword, en “Once in a Lifetime” het dadelik ’n groot treffer geword.

Snotkop se musiek was aanvanklik hoofsaaklik op ’n jonger gehoor gemik, maar sy laaste paar albums het by ’n groter mark byval gevind. “Hiekies in Hartenbos” is een van sy grootste onlangse treffers.

Nadat Chris Daughtry aan die Amerikaanse weergawe van Idols deelgeneem het, het hy besluit om ’n rock-groep te vorm, en sy van as naam van dié groep te gebruik. “No Surprise” was een van die treffers in die groep se tweede album.

Robbie Wessels het ’n groot treffer met “Leeuloop” gehad en dié is ook ingesluit.

Blackbyrd het in ’n kort tydjie een van ons land se voorste groepe geword. Op hul groot treffer “From the Bottom of my Heart” sing Craig Hinds, hoofsanger van die groep Watershed, saam met hulle. Dis jammer dat een van Watershed se treffers nie ook ingesluit is nie.

Ray Dylan het vroeg in die nuwe millennium sy debuutalbum uitgereik, maar eers sukses behaal met sy tweede album, Hokaai stop die lorrie, waarvan die titelsnit hier ingesluit is.

Avril Lavigne se debuutalbum Let Go is in 2002 uitgereik, en “Sk8er boi” was een van die redes waarom dit die volgende jaar Suid-Afrika se algehele topverkoper geword het.

Elizma Theron en Nicholis Louw is twee van die lede van die groep 4 Werke, maar hulle het ook al ’n paar duet-treffers gehad. “Kom ons vat ’n kans” was die eerste hiervan, en dit was Elizma se deurbraak. Nog ’n treffer wat ’n deurbraak was, was “Die hemel weet”, wat Manie Jackson onder die publiek se aandag gebring het en baie gewild geword het.

Die eerste snit in die tweede CD-album is een van P!nk se groot treffers, “Please don’t Leave Me”.

Die groep Romanz het ’n spul treffers gehad en al vier die lede het suksesvolle solo-loopbane gevolg sedert die groep ontbind het. “My hele hart”’ was die titelsnit van hul debuutalbum.

Shayne Ward is nog ’n voormalige wenner van The X Factor, en “That’s my Goal” was sy eerste groot treffer.

Fredi Nest het lank gewag voordat hy as sanger bekendheid verwerf het, maar toe het hy sommer twee treffers op een album gehad. Die titelsnit in sy album Sê my was sy groot deurbraak, maar “Getoor” was dalk nog ’n groter treffer.

Jordin Sparks is nog ’n voormalige Idols-wenner. “Battlefield” was een van haar groot treffers, maar sy het lanklaas nuwe musiek uitgereik.

Nicholis Louw se debuutalbum het eers sukses behaal nadat dit heruitgereik is, maar veral “Ek wil my baby hê vanaand” het hom onder die publiek se aandag gebring. Nog ’n sanger met dieselfde van wat só ’n deurbraak gehad het, is Jakkie Louw. Hy het eers in kroeë gesing voordat hy sy deurbraak gemaak het, maar “Drie pikkewyne” sal seker altyd die liedjie wees waarmee hy geassosieer word.

Sean Kingston het op ’n jong ouderdom tot die musiekbedryf toegetree, maar sy treffer “Beautiful Girls” het presies dieselfde baslyn as Ben E. King se groot treffer “Stand by Me”.

Natuurlik het ’n slim platejoggie al ’n vermenging van hierdie twee liedjies gedoen.

Die Campbells moes ook wag totdat hulle tweede album verskyn het voordat hulle gewild geword het, maar “Rooi rok bokkie”, die titelsnit van hul tweede album, was dadelik ’n reuse-treffer.

Anastacia is een van daardie kunstenaars wat, ondanks die feit dat sy ’n ongelooflike sterk stem het, byna van die toneel verdwyn het, maar “Left Outside Alone” was ’n groot treffer.

Wicus van der Merwe het as’t ware in die kalklig grootgeword, want sy pa, Tolla, was natuurlik ’n legendariese storieverteller. Dit was natuurlik onvermydelik dat Wicus se humorsin in sy musiek na vore sou kom, en in “Spietkop” kan ’n mens dit duidelik hoor.

Outkast se treffer “Hey Ya” is die laaste internasionale snit op die album. Die tydsberekening van sy insluiting op hierdie versameling is in die kol omdat dit deesdae in ’n advertensie voorkom.

David Fourie het aan die eerste Idols-reeks deelgeneem en hoewel hy nie gewen het nie, is sy talent raakgesien.

Joe Niemand het die titelsnit van sy album Land in die suide geskryf, en dit is seker steeds die beste snit wat hy tot dusver opgeneem het. Hy het egter eers later werklik gewild geword.

Pieter Koen was eers ’n radio-omroeper voordat hy begin sing het en hy het verskeie groot treffers as sanger gehad. Een daarvan was Anton Myburgh se komposisie, “Tattoo”, wat seker een van die mees omstrede Afrikaanse liedjies van die afgelope tyd was. Amor Vittone se “Hierdie nag” is ook ingesluit.

Hierdie soort versameling is altyd ’n goeie idee en die samestellers het dit reggekry om ’n groot verskeidenheid wat by ’n breë gehoor byval sal vind, in te sluit. Noudat daar versamelalbums uitgereik is met musiek van die 1980’s tot vandag, hoe lyk dit met versamelings van die 1960’s en 1970’s?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.