Resensie: ‘Vergeet wat jy weet van liefde’ deur Dewald Wasserfall

‘n Video van die titelsnit volg onderaan die berig. Met die onlangse Ghoema-toekennings het Dewald Wassefall die toekenning gewen vir die beste nuwe kunstenaar van die jaar.

Dit sal dalk vir baie mense snaaks klink, omdat Dewald nie heeltemal ‘n nuweling in die musiekbedryf is nie. Die feit is egter dat Vergeet wat jy weet van liefde, sy eerste solo-album is en dat hy daarom vir hierdie toekenning gekwalifiseer het.

Die titelsnit is reeds ‘n groot treffer, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Dit is, soos die meeste snitte op die album, sy eie komposisie, en ‘n mens kan agterkom dat hy seker een van ons land se voorste liedjieskrywers is. Die volgende snit, Sewentien, wat hy saam met Johan Vorster geskryf het, is nog ‘n moontlike treffer. Eendag as ons groot is, geskryf deur Johan Vorster, is die huidige radiotreffer vanaf die album, en dit sluit baie aan by die tema van die vorige snit. Op my hart se hongersnood sing Karlien van Jaarsveld saam met hom. Hierdie liedjie kom uit die rolprent Semi-soet, en dit is goed om dit ook op hierdie album te sien. Geboorte met ‘n stukkende hart is nog ‘n snit wat maklik ‘n treffer kan word.

Jy’s beautiful vir my is effens rustiger as die res van die CD tot dusver, maar dit is pragtig, en wie weet, dalk kry dit ook radiolugtyd. Dis net jammer van die deurmekaar taalgebruik, wat te veel in Afrikaanse musiek voorkom. Goeie wyn en slegte gewoontes is ‘n baie goeie snit wat verdien om ‘n treffer te word. Die klank wat my hart maak is al oor die radio gehoor, en dit kan gerus die volgende treffer word. Twee snitte wat Dewald opgeneem het toe hy die hoofsanger van die groep Wasserfall was, is weer op hierdie album ingesluit, naamlik Duisend jaar en Suikerbos; laasgenoemde losweg gebaseer op die bekende volksliedjie Suikerbossie.

Dis maklik om te verstaan hoekom Dewald die Ghoema gewen het. Dit is baie moeilik om kritiek teen hierdie album uit te spreek, en hy het beslis baie meer talent en musikale integriteit as baie sogenaamde kunstenaars vir wie niks anders as kommersiële sukses belangrik is nie. Daarom kan hierdie album baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.