Resensie: ‘Vlindervingers’ – Die Ventertjies

Die-Ventertjies

Die Ventertjies. Foto; Facebook.

Dit gebeur nie aldag dat kunstenaars wat nog op skool is reeds ʼn CD agter hul naam kan skryf nie.

Nicola en Lindie-Lee Venter is egter ʼn uitsondering. Hulle het albei van kleins af leer kitaar speel, en is saam met Gerhard Meyer, wat voorheen deel van Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels was, deel van die groep Die Ventertjies, wie se debuutalbum, Vlindervingers, onlangs vrygestel is. Nicola en Lindie-Lee is onderskeidelik 16 en 13 jaar oud.

Die eerste snit op die album is ʼn baie goeie weergawe van Ricardo Bornman se bekende “Lentevrolikheid”; die eerste enkelsnit van die album. Nicola bespeel die melodiekitaar, Gerhard die ritmekitaar en Lindie-Lee die baskitaar. Die klank wat hulle sonder tromme, klawerborde of ander instrumente voortbring, is eenvoudig ongelooflik.

Nicola en Lindie-Lee se pa, Hennie, het self in drie orkeste gespeel, en dit is duidelik dat dié twee sussies hul talent by hul pa geërf het. ʼn Eertydse kitaarspeler aan wie hulle hulde bring, is Terra Terblanche, wat die volgende snit, “Dries se seties”, gekomponeer het. “Annatjie se wals” is nog ʼn komposisie van Terra Terblanche en weer eens kan ʼn mens agterkom dat hulle natuurlike talent het. “Huisie in die Vrystaat” is ʼn tradisionele komposisie wat jare gelede deur die Vrystaat-Boereorkes bekend gemaak is. “Die grenswag” is die tweede Ricardo Bornman-komposisie wat op die album voorkom, en hul opname is net so goed soos die oorspronklike een.

Nog ʼn eertydse kitaarspeler wie se nagedagtenis die Ventertjies eer aandoen, is Hansie Roodt, wat die volgende snitte, “Sneeuvlokkies” en “Lentewals”, oorspronklik gekomponeer het. “Vanaand dans ons weer” is een van die lekkerste snitte op die album. Die volgende snit, “Lekker ou dae”, is nog ʼn komposisie van Terra Terblanche. Nicola se kitaarwerk in “Warm snare” is uitstekend; daar kan geen twyfel oor haar natuurlike talent bestaan nie!

“Ressano Garcia” is een van Ricardo Bornman se bekendste, en beste, komposisies, en weer is Nicola se kitaarwerk iets besonders. “Sportparade-polka” en “Waar die Sabie vloei” is nog twee van Terra Terblanche se komposisies. Weer is ʼn mens beïndruk met hul natuurlike talent. Die album word afgesluit met twee internasionaal bekende snitte. “From a jack to a king” was oorspronklik ʼn treffer vir Ned Miller, maar dit word nog gereeld gehoor. Die laaste snit is een van die grootste kitaartreffers ooit, naamlik “Wheels”, wat oorspronklik deur Billy Vaughan bekend gemaak is.

Gewoonlik is ʼn mens maar skepties wanneer jong kunstenaars tot die musiekbedryf toetree – nie net omdat ʼn mens nie seker is of hulle dit sal kan volhou nie, maar ook omdat hulle soms op verbygaande foefies staatmaak om sukses te probeer behaal. Die Ventertjies wys egter dat ʼn mens nie hieroor bekommerd hoef te wees nie. Omdat hulle uit ʼn musikale gesin kom en van kleins af weet waaroor dit gaan, sal hulle sekerlik nog lank deel van die musiekbedryf kan wees. Boonop maak hulle op niks anders as talent staat om iets te bereik nie. As jy van kitaarmusiek hou, moet jy beslis hierdie album by jou versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.