Resensie: ‘Volle bors vir Jesus’ – Verskeie kunstenaars

Volle-bors-vir-Jesus

Foto: Verskaf.

Ná die sukses van die versamelalbum Volle bors in Afrikaans is die eerste volume in ʼn Christelike reeks, Volle bors vir Jesus, pas uitgereik.

Die eerste snit, “Saamstaan” (Daar was ʼn kruis), is ʼn komposisie van Gerhard Steyn wat hy saam met die groep Onbeskaamd sing.

Du Preez Stoltz het groot sukses behaal met sy  twee Christelike albums tot dusver en Vader vat my hand het ʼn groot treffer geword.

Joe Niemand het al baie diep spore in die musiekbedryf getrap en het al heelwat treffers geskryf. Hy het die ATKV se Crescendo-kompetisie saam met Jaco du Plessis (later Jay, wat lid van die groep Eden sou word en deesdae ʼn suksesvolle solo-kunstenaar is) gewen en sy eie rockgroep gehad. Deesdae spits hy hom egter toe op Christelike musiek en “Genoeg is genoeg” was die titelsnit van sy mees onlangse Afrikaanse album.

Rudi Muller beskou homself nie as ʼn gospel-kunstenaar nie (eintlik is gospel ʼn spesifieke musiekgenre en nie alle kontemporêre musiek tot eer van die Here kan as gospel beskou word nie), maar veral sy tweede Christelike album, Tetelestai, was baie gewild. “Halleluja in my hart” was een van die treffers wat hierdie album opgelewer het.

Hoewel Natasha Joubert hoofsaaklik ook ʼn kommersiële kunstenaar is, het haar man, Willie, die lirieke vir “Dankie Heer” geskryf.

Nog ʼn kunstenaar wat in dieselfde (kommersiële) kategorie val, is Ricky Faber, maar met “Jesus lewe” kom ʼn mens agter dat hy van dié beperking kan loskom.

Dewald Gouws het al twee albums uitgereik en sy derde een verskyn binnekort. Daarby is hy deel van die groep Manne wat glo. “God van lig” het op sy debuutalbum, Verhaal van glorie, verskyn en is ʼn baie goeie komposisie van Carlé van Deventer.

Amore is nog ʼn kommersiële kunstenaar wat net nou en dan ʼn Christelike snit opneem; Rudi Muller het “Kettings” vir haar geskryf.

Evert van Niekerk het Mynie Grové se bekende komposisie “Sweef soos ʼn arend” opgeneem, en dis goed om ʼn instrumentale weergawe daarvan, wat hy op die viool speel, te hoor.

Ronell Erasmus het besluit om kommersiële musiek vaarwel toe te roep en haar op Christelike musiek toe te spits.

Johan Swanepoel het sy bydrae tot hierdie versameling, “U is liefde”, self geskryf. Dit is ʼn baie goeie snit wat gereelde radiolugtyd verdien.

Juanita du Plessis het haarself gevestig as ʼn suksesvolle kommersiële en Christelike kunstenaar, en “Ons Koning kom” is een van die grootste Christelike treffers wat sy tot dusver gehad het.

Benice Bornman se weergawe is ook ingesluit. Benice se pa is die bekende kitaarspeler Hennie de Bruyn, en dit is duidelik dat Benice sy musiektalent geërf het.

Willie Joubert is al meer as 20 jaar lank een van ons land se voorste Christelike kunstenaars, en saam met Dewald Gouws, Jan de Wet en Leon Ferreira deel van Manne wat glo. “Ek wil jubel” was die titelsnit van een van sy vorige albums, en dit het gereelde radiolugtyd gekry.

Cordelia het die temaliedjie van die rolprent Hartsbegeertes geskryf. Dit is ʼn pragtige snit wat gerus meer gereeld oor die radio gespeel kan word.

Gerhard Steyn het Hannes van der Walt se bydrae tot hierdie versameling, “U is God”, help skryf. Dis eweneens ʼn snit wat radiolugtyd verdien.

Jasmyn se jongste album, Agt keer opstaan, het twee jaar gelede verskyn, en “In my is somer” is een van die treffers wat dit opgelewer het. ’n Mens sien uit na Jasmyn se volgende album.

Gerhard Steyn het tot dusver nog net een Christelike album, Nuwe krag, uitgereik, en “Want U is goed” het oorspronklik daarop voorgekom. Die album word afgesluit met die panfluitspeler Ryan Walt se “Amen”. Die oorspronklike weergawe was in die 1970’s ʼn groot treffer in Suid-Afrika.

Daar is gewis baie mense wat sal wonder hoekom daar nie méér erkende kunstenaars van Christelike musiek, soos Jan de Wet, Louis Brittz, Retief Burger of Piet Smit se musiek op hierdie versameling voorkom nie. Die vraag is of dit regtig saak maak, want die snitte  op hierdie versameling behoort die meeste Christen-musiekliefhebbers tevrede te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jenny thom ·

Cornelia
Dit is ‘n pragtige lied met beautiful woord.
Ek het sommer saam gesing.
Hou so aan.
Ek moet eenvoudig hierdie CD vir my koop.
Groete, heerlike dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.