Resensie: ‘Volledig’ deur Koos du Plessis

Afrikaanse musiek in veral die 1960’s en 1970’s is gekenmerk deur klakkelose vertalings van bekende oorsese treffers en Engelssprekende kunstenaars wat Afrikaans met ‘n swaar Engelse aksent gesing het. Die enigste ligpunt was die feit dat daar heelwat toonsettings van gedigte was.

Toe kom 1979. Jan de Wet het weliswaar ‘n paar treffers gekomponeer, onder meer Ek verlang na jou en Sonder jou, wat Springbok Radio se Top 20 vir onderskeidelik Sonja Herholdt en Ian en Dix gehaal het. Die groot deurbraak het egter in daardie jaar gekom toe Anton Goosen en veral Koos du Plessis op die toneel verskyn het. Laurika Rauch het Koos se komposisie Kinders van die wind vir die televisiereeks Phoenix en Kie opgeneem en die res is geskiedenis.

Koos het daarna self sy merk as sanger gemaak, maar hy is op 15 Januarie 1984 in die ouderdom van 38 jaar in ‘n motorongeluk oorlede. Die drie albums wat in sy leeftyd vrygestel is, naamlik ‘Skadu’s teen die muur’, ‘As almal ver is’ en ‘Herbergier’, is saam in hul oorspronklike vorms as Trilogie vrygestel, maar dit was effens aan die duur kant. Nog ‘n album, ‘Die vierde horison’, is postuum uitgereik, en nou het sy platemaatskappy met ‘n blink gedagte vorendag gekom: stel al vier albums, plus ‘n weergawe van seker sy bekendste komposisie, maar wat hy nooit opgeneem het nie, op ‘n dubbele versameling teen ‘n redelike prys vry.

‘n Mens kan met die titelsnit van Skadu’s teen die muur agtergekom dat Koos nie die lewe as ‘n lied beskou het nie. Dit het diegene wat met oppervlakkige Afrikaanse lirieke vorendag gekom het, uit hul slaap wakkergeruk en laat besef dat daar mense is wat die donker kant van die lewe ervaar. Hoewel Laurika Rauch ‘n treffer met Kinders van die wind gehad het, het Koos dit self ook opgeneem; ‘n mens moet self besluit watter weergawe jy verkies. Miskien verkies ek Koos se opname, juis omdat dit nie so gereeld gehoor word nie.

Koos het in Pretoria gewoon, en was ‘n subredakteur by Oggendblad, en in Pretoria het hy van sy tuisstad gesing. As jy my kon volg was ‘n bewys dat Koos ook liefdesliedjies kon skryf. In Skielik is jy vry het hy die versugting verwoord van diegene wat net met rus gelaat wil word; dis net jammer dat dit waarvan hy hier gesing het, nie moontlik is nie. Dit klink asof Koos gereeld oorsee gereis het, soos wat ‘n mens uit die lirieke van Najaarsdroom kan agterkom.

Molberge: Herinneringe aan Springs was die eerste snit vanaf Koos se tweede album, ‘As almal ver is’; hy het in Springs grootgeword, as ek my nie misgis nie. Koos het drie dogters agtergelaat, naamlik Irma, Karla (wat ‘n sangeres in haar eie reg geword het) en Karien, en hy het op hierdie album ‘n liedjie vir elk van hulle geskryf. Onthou jy nog was ‘n aantal jare na Koos se dood die titelsnit van een van Carike Keuzenkamp se albums, en toe eers ‘n treffer geword. Baie mense wat die pyn van gebroke verhoudings ervaar het, sal hulle met die woorde van Groet sonder woorde kan vereenselwig. Die titelsnit was een van die treffers van hierdie album was, en hierop het Koos die gevoel van eensaamheid goed verwoord.

Die tweede CD bevat die albums ‘Herbergier’ en ‘Die vierde horison’. Skimme is nie maklik om te sing nie, omdat jy ‘n baie lae bas-stem nodig het om een van die note by te kom. Nogtans het Piet Smit, wat ‘n album met Koos se musiek opgeneem het, ‘n baie goeie opname daarvan gemaak. Hier’s ons almal tesaam is eintlik ‘n gespot met diegene wat glo dat drank noodsaaklik is om mense lekker te laat kuier. Met Koue-vuur het Koos alkoholisme sonder vrees aangespreek; hy was sonder twyfel die eerste Afrikaanse liriekskrywer wat die moed gehad het om dit te doen.

Omdat ‘Die vierde horison’ eers na Koos se dood uitgereik is, is baie min snitte daarvan oor die radio gespeel. Splinterruit is egter ook deur Piet Smit opgeneem. Die hoogtepunt is egter die laaste snit, Woorde, juis omdat dit so waar is. Koos het hierin gesing van allerhande dinge wat mense vir mekaar sê om hulle beter te laat voel, of wanneer hulle mekaar groet. Hy het gesê dat baie hiervan eintlik maar leeg is, en nie regtig bedoel word nie. Sommige mense sal dit dalk as swartgallig beskou, maar ‘n mens wonder of dit nie dalk die waarheid is nie. Dis moeilik om te glo dat Koos nooit sy bekendste komposisie, Gebed, opgeneem het nie, maar Jannie du Toit en wyle Lucas Maree se opname is hier ingesluit. Nog ‘n bekende komposisie van Koos wat hy nooit opgeneem het nie, is Somerkersfees, maar daar is op gepaste wyse hulde aan hom gebring deur dié lied in die Liedboek van die Kerk ingesluit.

Die meeste van Koos se aanhangers sal seker reeds al vier sy albums in hul CD-versamelings hê, maar daar sal altyd diegene wees wat nog op soek is na sy musiek. Hulle het geen verskoning meer om dit nie by hul CD-versamelings te voeg nie. Hierdie dubbele versameling doen sy naam behoorlik gestand, want daar is niks meer waarvoor selfs die mees toegwyde aanhanger nog kan vra wat nie hier voorkom nie. Dit word boonop teen ‘n baie redelike prys verkoop, en daarom kan dit nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae