Resensie: ‘Vuurbestand’- Suzanne

Suzanne-Vuurbestand-02

Suzanne. Foto: Facebook.

Dit gebeur selde dat ʼn kunstenaar wat op ʼn jong ouderdom begin sing, suksesvol bly.

Baie van hulle wat as tieners, of selfs jonger, tot die musiekbedryf toegetree het, verdwyn en dié wat vasgebyt en voortdurend verbeter het, kan op een hand getel word. Een van dié wat in laasgenoemde kategorie val, is Suzanne, wat op tienjarige ouderdom haar eerste album vrygestel het.

Suzanne se grootste treffer tot dusver was “Gatswaai”, wat oorspronklik deur Anna Davel gesing is, maar wat vir haar en Snotkop ʼn treffer geword het. Nou is sy terug met die titelsnit van haar jongste album, Vuurbestand en die titelsnit is reeds ʼn treffer op verskeie radiostasies. Al die snitte op die album is geskryf deur Suzanne en haar man, Jacobus Uys, terwyl Fred den Hartog, van Die Heuwels Fantasties, die album vervaardig het. Dit gee ʼn mens reeds ʼn idee van wat om te verwag.

Die eerste snit op die album, “Belofte”, is die nuwe enkelsnit en dit het die potensiaal om baie gewild te word.  Op “Die lied in my hart” sing sy oor wat regtig belangrik is in ʼn verhouding. Hier is nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word.

“Vergewe my” is nog ʼn hoogtepunt op die album en ʼn mens kan Die Heuwels Fantasties se klank duidelik op hierdie snit hoor. Dit is beslis nog ʼn moontlike treffer. As daar een snit wat veral by jonger luisteraars byval gaan vind en die dansvloere gou vol gaan kry, is dit “Liefde is alles.”Op hierdie snit wys sy ook dat sy nie sukkel om hoë note by te kom nie.

Die meeste snitte op die album is tot dusver opgewek en vrolik, maar met “Dieselfde” wys sy dat sy ook rustige ballades kan sing. “Somerson” is nog ʼn lekker snit wat radiolugtyd verdien. “Herinner” is nog een van die rustiger snitte op die album, maar dis allesbehalwe vervelig.

Daar is deesdae baie kunstenaars wat sing oor hul liefde vir Suid-Afrika en Suzanne doen dit in “My verhaal.”  Die verskil is dat sy van herinneringe aan haar kinderjare sing.  “Jy’s my held” is ʼn besonder mooi snit en dit sal enigiemand wat in hom- of haarself twyfel, laat nadink.

Dis eienaardig om die titelsnit aan die einde van die CD aan te tref. Dit is ʼn hele rukkie voor die CD self vrygestel en het daarom dalk nie die sukses behaal wat dit moes nie. Hoe dit ookal sy, dit is teeds ʼn baie goeie snit.

Tot dusver het Suzanne nog nie heeltemal met haar musiek die hoogtes bereik waartoe sy in staat is nie, maar hierdie album is haar beste sover en daar is geen twyfel dat sy groot sukses daarmee gaan behaal nie. Hier is oorgenoeg snitte met trefferpotensiaal en daarom kan dié album sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.