Resensie: Wonderwerk – Leah

Leah-Wonderwerk

Leah se debuutalbum, Wonderwerk. Foto: Verskaf.

Dit is nou al omtrent twee jaar sedert die Suid-Afrikaanse publiek die eerste keer van Leah kennis geneem het toe sy in die rolprent As jy sing te sien was.

Benewens die rol wat sy in die rolprent vertolk het, het sy die liedjie “Ek moes jou gesoen het” saam met Bobby van Jaarsveld gesing, en dit het ’n groot treffer geword. Sedertdien is daar met groot verwagting uitgesien na haar debuutalbum, en dit is eindelik onlangs vrygestel.

Die titelsnit is ’n komposisie van Johan Vorster. ’n Mens kom agter dat sy een van die meer talentvolle kunstenaars is wat die afgelope tyd op die toneel verskyn het en dat Johan een van ons land se voorste liedjieskrywers is. Johan het die volgende snit, “Mooiweer”, saam met Christoph Kotze geskryf. Die treffersnit van die album is “Met jou klere aan”, wat reeds teen die meeste radiostasies se trefferlyste uitklim en die potensiaal het om een van die grootste treffers van die jaar te word. “Volmaan” is ’n baie goeie snit wat ook deur Johan Vorster en Christoph Kotze geskryf is. Juan Floors Oosthuizen se kitaarwerk in “Ek bely” is baie goed, en dit is een van die snitte wat byna vir seker ’n treffer gaan word! Daar is twee duette op die album; die eerste een is “Ek vergewe jou”, wat sy saam met Dewald Wasserfall sing. Die meeste mense sal hulle met die woorde kan vereenselwig, en weereens is dit ’n snit wat baie gewild kan word.

“Meer as niks” is ’n pragtige snit wat deur Johan Vorster geskryf is. In “Liefde is” sing Leah van die verskillende maniere waarop mense aan liefde dink, en die woorde laat ’n mens nogal dink. Die volgende snit is “Ek moes jou gesoen het”, wat nog net so goed klink soos toe dit die eerste keer vrygestel is. “Dronk vir jou” is ’n baie mooi snit met hoofsaaklik klavierbegeleiding aan die begin, en hoewel volle orkesbegeleiding later bykom, sou dit mooi gewees het selfs as daar net ’n klavier was. Nog ’n mooi snit is “Iemand wat ek nog nie ken nie”, en baie mense sal hulle met die woorde kan vereenselwig, omdat die meeste mense sekerlik al so gevoel het.

“Kannieophouaanjoudinkgedagte” (sjoe!) is die enigste snit op die album wat Johan Oberholzer geskryf het, en weereens is dit ’n moontlike treffer. Enigiemand wat Afrikaans is groot vol. 7 in hul CD-versameling het, sal die snit “Perfeksie” ken; ’n mens sou verwag dat dit die eerste treffer van die album sou wees, maar dit was natuurlik nie die geval nie. “As dit verby is” is ’n besondere snit wat dalk nie dadelik vir radiolugtyd oorweeg sal word nie. As dit die geval is, is dit ’n jammerte, want hierdie soort liedjie word soms ’n treffer en dit is een snit waarin Leah haar talent baie goed ten toon stel.

Dit het lank laas gebeur dat ’n nuwe Afrikaanse kunstenaar ’n sterk indruk met ’n debuutalbum gemaak het. Die meeste onlangse “nuwelinge” op die Afrikaanse musiektoneel, veral Elvis Blue en Riana Nel, het al bekendheid vir ander genres verwerf voordat hulle Afrikaans begin sing het, terwyl ander, soos Joe Foster, deel van ’n groep was voordat hul eerste solo-snitte of -albums vrygestel is. Daarom is dit goed dat ’n splinternuwe kunstenaar eindelik weer op die toneel verskyn het. Daarby werk Leah saam met sommige van ons land se voorste liedjieskrywers en vervaardigers, wat haar ’n besliste voorsprong gee. Leah gaan byna vir seker Afrikaanse musiek se volgende superster word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda Ras ·

Verseker!
Ek sekondeer elk woord. Ek dink sy is ‘n wonderlike nuwe ster. Sy is so veelsydig….aktrise en sangeres en lyk my sy kan dans ook. Pragtig.
Ek is so bly ons het nog sulke talentvolle sangeresse wat Afrikaanse musiek uitdra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.