Retief Burger: ‘Dis musiek wat met mense se harte praat’


Retief Burger (Foto: Facebook)

Met die uitreiking van sy eerste album in 2006 het die Afrikaanse gospelsanger Retief Burger harte verower. Dié album, Luidkeels, het van hom ʼn bekende naam in die musiekbedryf gemaak en ʼn pad geplavei om die Evangelie te verkondig.

Burger se jongste album, Alles, is onlangs uitgereik. Dié album is soos die sanger se vorige opnames, met die uitsluiting van sy album Nou en vir altyd, voor ʼn gehoor opgeneem.

Die sanger, ook ʼn leraar van die wêreldwye Every Nation-kerkgroep, vertel dié album is spesiaal geskryf uit sy passie vir plaaslike kerke en om musiek te skryf wat in dié kerke gesing kan word.

“‘Alles’ is ʼn omvattende woord wat my verhouding met die Here beskryf – en natuurlik ook ʼn woord wat sy verhouding met ons beskryf. Hy het nog altyd alles vir ons gegee,” sê hy.

“Die musiek in die album is geskryf om in kerke gesing te word. As ʼn mens oor die Here liedjies skryf wat in lof en aanbidding gebruik word, skryf ons die ou waarhede oor en oor – maar op nuwe maniere en met vars melodieë. Ek dink dis jammer dat baie van die liedjies wat in kerke gesing word dikwels meer gaan oor ons as mense as oor God. Ek het daarom juis gefokus om die liedjies oor God se majesteit en sy grootheid en heiligheid te skryf. Die liedjies is ook gefokus daarop om mense te herinner hoe groot God is – want die oomblik wanneer ons vergeet hoe groot Hy is en dat hy die heelal beheer, kan ons baie maklik angstig raak oor dinge in ons lewe en die land. Maar God is groot: Koninkryke kom en koninkryke val, maar God bly steeds net God.”

Burger se jongste album (Foto: Facebook)

Die album bevat 13 snitte. Twee van dié snitte is geskryf tydens Burger se besoek aan die Filippyne. “Die Every Nation-kerkgroep waarvan ek deel is funksioneer in sowat 80 lande. Ons het ʼn groot liedjieskryfkultuur. As ʼn wêreldwye beweging wat sterk fokus op nasies, sendingwerk en dissipelskap, het ʼn groep van 26 lande in die Filippyne byeenkom. Ons het twee weke lank opleiding gehad in liedjieskryf en toe ook saam in ʼn groep geskryf. Twee van die liedjies wat ons daar geskryf het, het ek in Afrikaans vertaal en in die album ingesluit. Die liedjies is ‘Seëngebed’ en ‘Majesteit’.”

Sowat 600 mense het vroeër vanjaar in Pretoria saamgetrek om Alles op te neem. Hy sê dié ervaring was ʼn hoogtepunt in die vervaardiging van die album. “Baie van die mense wat die byeenkoms bygewoon het, sing in ons kerke. Ons het ʼn baie gemaklike aand gehad – ons het die liedjies vir die mense geleer en dit toe twee keer opgeneem. Daar was regtig ʼn aanbiddingsatmosfeer en die mense het wonderlik saamgesing. Die hele proses het net so ʼn bietjie langer as drie uur geneem, maar dit was ʼn wonderlike ervaring.”

Hy sê dit is vir hom belangrik dat dié album mense herinner aan wat aanbidding werklik veronderstel is om te wees. “Aanbidding is nie net musiek nie; dis ʼn leefstyl. Dis die manier wat jy jou man of vrou hanteer en die manier hoe jy jou geld hanteer. Alles in die wêreld – met die uitsluiting van sonde – kan gedoen word as ʼn daad van aanbidding. Die Bybel leer ons om in gees en waarheid te aanbid. Daarom is dit belangrik dat die lirieke wat ons skryf nie emosies of opinies van mense weerspieël nie; maar die waarheid van die Bybel,” vertel hy.

Die sanger sê musiek het ʼn spesiale manier om harte te raak – en dat elke liedjie in dié album tot iemand kan spreek. “Die Here is so ryk in sy genade en die manier waarop Hy mense aanraak, maar musiek is een van die universele tale wat reguit met iemand se hart kan praat. Ek praat ook nie net van gospelmusiek nie; ʼn mooi aria of ʼn klassieke stuk of enige musiek het ʼn manier om met mense se harte te praat,” sê hy.

“Ek het al soveel getuienisse gehoor van wat musiek vir mense beteken het. Iemand het eendag ʼn storie met my gedeel dat hy sy lewe wou neem toe die radio aankom en een van my liedjies gespeel het – en tóé praat die Here met hom. Dis ʼn wonderlike instrument, juis daarom is ek dankbaar dat ek dié instrument kan gebruik.”

Vir meer inligting oor Burger se album besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nannie ·

Baie dankie Retief vir jou wonderlike musiek. CD om op my lysie te skryf van moet he.

Afrikaanse Knaap ·

Retief aanbid God op maniere wat my stem en musiek talent nie kan nie.
Dankie Retief en jou span dat julle ons ambassadeur is by Hom. Jou musiek laat my voel ek bid weer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.