Reuse-lofprysingsfees ná dekade hervat

Lede van die plaaslike musiekgroepe wat by die fees gaan optree. (Foto: verskaf)

Die 2000’s was die goue jare van die “Godly Revolution”-Christelike jeugfees. Dié bekende fees, wat in 2010 laas gevier is, gaan vanjaar op ’n splinternuwe, opwindende wyse voort.

“Mense is regtig opgewonde daaroor. Dis tyd om die sak en as van die pandemie en die grendeltydperk af te skud. Ons gaan weer die Here loof en prys in groot getalle.”

Só sê Erich Posthumus, organiseerder van die fees en bestuurder van die Goeie Nuus-fabriek, een van die fees se borge, oor die geleentheid.

Die fees vind vanjaar op 17 Junie by die Choose Life-kerk in Pretoria plaas. Dit skop af om 17:30 en duur tot 21:30.

“Dit gaan ’n heerlike musiekfees-maraton wees.”

As gevolg van Covid-19-verwante regulasies kan slegs 1 000 mense die geleentheid in persoon bywoon, veel minder as die 10 000 feesgangers wat destyds by die fees gejubel het.

“Ons gaan vanjaar die impak van die fees vergroot deur ’n regstreekse uitsending daarvan beskikbaar te stel. Kerke, skole en dorpe kan regoor die land deel word van die fees,” het Posthumus aan Maroela Media gesê.

’n Lisensie om die fees op groot skaal uit te saai is op hierdie webwerf beskikbaar om aan te koop.

Die Straatligkinders sal ook by die fees te siene wees. (Argieffoto)

“Ons beveel dit regtig aan vir diegene wat dit graag op groot skaal wil uitsaai om die kaartjies vir so min as moontlik te verkoop. Ons wil die fees so toeganklik moontlik maak.”

Posthumus benadruk dat hul mikpunt met die fees ’n uitnodiging aan die jeug is om deel van die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika te word.

“Ons nooi nie net die tieners wat reeds die Here dien nie, ons wil graag hê dat hulle hul vriende moet saambring, sodat hulle kan sien hoe lekker dit is om ’n kind van die Here te wees.”

Hy sê verder dat die fees ’n tyd van vernuwing aandui.

“Ons kry ’n nuwe lewe. Ons kan almal saam ’n helder lig laat skyn.”

Delano Jooste, die krulkop 16-jarige van George wat vroeër vanjaar die Laat ons Juig-gospelsangkompetisie gewen het, is een van die kunstenaars wat op die verhoog te sien gaan wees.

Metanoya, Straatligkinders, Revelation Enterprises, Pretoria-jeuggroepe, C Jay, KingDmusic en DJ Maeztro is deel van die feesgangers se vermaakspan.

Die fees word aangebied deur Radio Kansel, I am Youth en Goeie Nuus-fabriek.

  • Kaartjies na die fees kan hier aangeskaf word.
  • Vir meer inligting oor die fees, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.