Riaan Benadé en Jay vir tweede week konings van Top-20

Meyer le Roux en Riaan Benadé. (Foto: Facebook/Buffelsfontein Baard-olie)

Riaan Benadé en Jay se “Rowwe Bliksem” kraai steeds koning en twee nuwe goedvoeltreffers maak vandeesweek hul debuut op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Die broer-duo Droomsindroom se nuutste enkelsnit, “Hey Sonneblom”, het dié trefferlys op nommer 18 betree, terwyl Jan Rhaap se “Jan ek kan nie dans nie” – wat binne twee weke van sy bekendstelling reeds meer as 92 000 kykbeurte op YouTube het –tans die 20ste plek beklee.

Droomsindroom se Kirsten en Kyle Schlebusch het vroeër aan Maroela Media vertel dat hulle deur dié enkelsnit vir luisteraars van hul probleme wil laat vergeet. “‘Hey Sonneblom’ is ʼn goedvoel‑liedjie en die sonneblom waarna verwys word, is ʼn metafoor vir die mense in elkeen van ons se lewe wat somer én sonskyn gedurende jou donkerste tye bring. Hierdie mense besef nooit regtig hoe helder hulle in ons lewe skyn nie en juis dít maak hulle so spesiaal,” verduidelik Kirsten.

Verder is daar vier liedjies, waaronder Benadé se ander treffer “Spontaan”, wat vandeesweek op die trefferlys styg, terwyl vyf daal en ʼn volle nege onveranderd bly.

  1. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe Bliksem”
  2. Eloff – “Johnnie Blou”
  3. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”
  4. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  5. Bernice West – “Jona”
  6. Riaan Benadé – “Spontaan”
  7. Jo Black – “Staan vas”
  8. Elandré – “Hand aan hand”
  9. Dewald Wasserfall – “Bedoel”
  10. Rooksein – “Genade nader”
  11. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”
  12. Christia Visser – “Handgranaat”
  13. Appel – “Dina”
  14. Spoegwolf – “Bring my geweer”
  15. Franja du Plessis – “My lief”
  16. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  17. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  18. Droomsindroom – “Hey Sonneblom”
  19. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  20. Jan Rhaap – “Jan ek kan nie dans nie”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Die sanger en liedjieskrywer Simoné Roets se nuutste enkelsnit, “Om Elke Hoek en Draai”, is pas bekendgestel is. Roets vertel dat dié lied, wat sy saam met haar ma neergepen het, oor langafstandverhoudings en alles wat daarmee gepaard gaan, handel.

“Aan die een kant is daar die avontuur en groei wat gebeur wanneer jy vêr weg is van alles wat vir jou bekend is. Dít tesame met kort kuiers wat uiters kosbaar word omdat jy weet julle het min tyd saam het, was die inspirasie agter die lied,” sê sy.

Rita Li het ook ʼn nuwe baadjie vir Musiek soos Grond se lied “Lugballon” aangetrek.

 

Die Musiek soos Grond-kunstenaars (Foto: Hendri van Skoll Photography)

Musiek soos Grond is ʼn musiekbeweging wat in 2019 begin is om kontemporêre kunstenaars ʼn platform te bied om hul lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel. Die groep bestaan uit musikante en kunstenaars Joshua na die Reën (Jacques de Villiers), Kaleidoskoop, Leon Gropp, Len Muller, Liani Reynolds, Lizandra Winter en Douvoordag.

Li sê sy wil met die lied “vir mense herinner dat ons ’n beter plek het om na uit te sien, dat ons as mens elkeen genoeg is en dat dit oukei is om soms net ’n bietjie afstand van die onmiddellike omgewing en ons emosies te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.