Riaan Benadé, Ricus Nel spog met ‘braaitreffer’ op Top-20

Riaan Benadé. (Foto: Francois Olivier)

Braai is sinoniem met Suid-Afrikaners en volgens Riaan Benadé en Ricus Nel is hul splinternuwe lied, “Haai haai”, vanjaar se grootste braaitreffer.

Die twee talentvolle liedjieskrywers en sangers het saam dié lied in minder as twee ure neergepen. Dit vaar ook reeds besonder goed op musiekstroomdienste soos Apple Music en betree die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die no. 4-posisie.

Dit is ook Benadé se derde lied op die trefferparade. Sy groot treffer “Spontaan” sit tans op no. 6, terwyl sy lied saam met Jay, “Rowwe bliksem”, vandeesweek weer die topposisie beklee.

Brendan Peyper, Jo Black, Ivan Roux en Bernice West spog ook met meer as een lied op die Top-20.

Lianie May se danstreffer “Bietjie Benoni” spring van verlede week se no. 9 na hierdie week se no. 3-posisie. Dié lied, wat haar eerste enkelsnit in byna vyf jaar is, is tans ook onder die Top-50‑liedjies op Spotify se Top Viral Songs.

Verder klim vyf liedjies, tien daal en vier by onveranderd op die Top-20.

  1. Riaan Benadé en Jay – “Rowwe bliksem”
  2. Droomsindroom – “Hey Sonneblom”
  3. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  4. Riaan Benadé en Ricus Nel – “Haai haai”
  5. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  6. Riaan Benade – “Spontaan”
  7. Eloff – “Johnnie Blou”
  8. Bernice West – “Jona”
  9. Jo Black – “Sê my mamma”
  10. Brendan Peyper en Minke Brits – “Meisies en ouens soos jy”
  11. Rooksein – “Genade nader”
  12. Elandré – “Hand aan hand”
  13. Ivan Roux – “Single”
  14. Appel – “Dina”
  15. Jo Black – “Staan vas”
  16. Snotkop – “Tsek!”
  17. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”
  18. Jo Black – “Vegter”
  19. Bernice West en Ilán van Staden – “Soen my op my mond”
  20. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Moenie dat haar Engelse naam jou flous nie. Jemma Catherine is trots Afrikaans en het pas haar nuutste enkelsnit en gepaardgaande musiekvideo, “Almal het iemand”, bekendgestel.

“Ons almal het daai een persoon op wie jy altyd kan staatmaak en wat altyd daar is vir jou,” vertel sy.

“Ek dink dit is belangrik is om te besef dat jou sielspersoon of sielsgenoot nie noodwendig die persoon is waarmee jy gaan trou nie. Liefde kan in verskeie vorme kom. Jou ‘iemand’ kan enigiemand wees. Daardie liefde is so kosbaar en moet vir niks verruil word nie,” het sy vroeër aan Maroela Media vertel.

“Almal het iemand” kom uit die pen van Janie Bay met insette deur Ruan Graaff.

Julanie J, wat bekend is vir treffers soos “Arm” en “Bitter”, se jongste enkelsnit, “Weer kies”, handel oor ʼn verhouding wat dalk nie aanvanklik heeltemal soos verwag uitgewerk het nie, maar waaroor die persoon steeds nie spyt is nie.

Francois van Coke en Elandré het kragte saamgesnoer vir ʼn nuwe lied, “Maak wakker”, wat onlangs bekendgestel is.

Verder is Ashton Wheeler se “Vat die langpad”, Neil Somers se “Neonlig nagdans”, Dirk van der Westhuizen se “Oe la la” en Elrine Lottino se “By die huis” ook nou op alle groot stromingsdienste te hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.