Riana kort op Ricus se hakke op Afrikaanse Top-20

Riana Nel. (Foto: Willem Botha via Facebook/Riana Nel)

Riana Nel. (Foto: Willem Botha via Facebook/Riana Nel)

Riana Nel se jongste enkelsnit, “Hou die hemel oop”, klim vandeesweek een plek na die no. 2-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20. Dit is die eerste enkelsnit wat uitgereik is uit haar splinternuwe album, Sterker.

Die gewilde sangeres en liedjieskrywer het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel van die tragedie agter die inspirasie vir dié liedjie: ʼn Seuntjie in haar kind se kleuterskoolklas het verdrink en Nel is só deur die gebeurtenis geraak toe sy op sy begrafnis moes sing, dat sy dié snit daar en dan opgemaak het en later verder geskryf het.

“Toe ek moet sing, het die Heilige Gees vir my gesê ek moet voor die seuntjie se ouers kniel, ek moenie staan nie, en dat ek moet sing uit die seuntjie se perspektief – hoe hy op reënboë dans en op Jesus se skoot sit en dat sy ouers moet vasklou aan hulle geloof sodat hulle ook eendag saam met hom in die hemel kan wees,” het Nel vertel.

Die agter-die-skerms-video vir die maak van die musiekvideo van “Hou die hemel oop” het reeds sowat 90 500 trefslae op YouTube. Die musiekvideo sal later vandeesmaand beskikbaar wees.

Elandré se nuwe enkelsnit, “Tussen die lakens”, het verlede week die Top-20 betree en is vandeesweek in die no. 14-posisie. Dit is ook ʼn goeie week vir Christia Visser: Haar enkelsnit, “17 Shots”, het die afgelope week weer opgetel met aanlynaflaaie en klim na die no. 8-posisie.

Ricus Nel en Snotkop se gewilde liedjie, “Boerepompie”, boer steeds in die no. 1-posisie en die musiekvideo het meer as ʼn miljoen trefslae op YouTube.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar sewe snitte wat styg, agt wat daal en vyf wat onveranderd bly.

  1. Ricus Nel ft Snotkop – “Boerepompie”
  2. Riana Nel – “Hou die hemel oop”
  3. Elandré – “Vuur op die water”
  4. Elvis Blue & Theuns Jordaan – “Jou huis”
  5. Janie Bay – “Amper daar”
  6. Jo Black – “Bitter”
  7. Dewald Wasserfall – “Elektrisiteit”
  8. Christia Visser – “17 Shots”
  9. Demi Lee Moore – “Mis eet slaap herhaal”
  10. Theuns Jordaan – “Praat is te laat”
  11. Biggy – “Dames”
  12. Tarryn Lamb – “Geheueverlies”
  13. Fatman – “SOS”
  14. Elandré – “Tussen die lakens”
  15. Early B ft Jack Parow & Justin Vega – “Potte”
  16. Jo Black – “Voel jy die genade”
  17. Juan Boucher – “Want jy weet”
  18. 4 Werke – “Bietjie meer van jou”
  19. Joshua na die Reën – “Soos in nou”
  20. Refentse – “Liefdegenerasie”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.