Ricus Nel kry ‘grootste verjaardaggeskenk ooit’

Ricus Nel (Foto: Maroela Media)

Die Afrikaanse sanger Ricus Nel het Woensdag op sy verjaardag gehoor dat sy jongste album, Ouskool Boereseun, platinumstatus behaal het.

Select Musiek, die platemaatskappy wat die sanger se album uitreik, het dié nuus bevestig.

“Vandag sê ons baie geluk aan Ricus wat platinumstatus vir sy jongste album behaal het,” het die platemaatskappy op sosiale media gesê.

Meer as 30 000 eksemplare van Ouskool Boereseun is verkoop sedert dié album ʼn jaar gelede uitgereik is.

“Dié nuus is die grootste verjaardaggeskenk ooit. My eerste platinum-toekenning – [ek] is so dankbaar. Dankie aan elk van julle wat hom gekoop het. Laat die hardekole hoog brand hierdie feesseisoen,” het die sanger op Facebook geskryf.

Die sanger het vroeër aan Maroela Media gesê die titel van dié album bied ʼn persoonlike blik. Ouskool Boerseun is sy eerste Afrikaanse album ná sy gewilde Don Williams-album.

“Die titel som my goed op. Ek hou van die ouer, meer tradisionele soort klank. Ek dink dit kom ook oor in my musiek. Die album bevat agt oorspronklike Afrikaanse snitte en nog ʼn Don Williams-keurspel, net omdat die mense my vorige een geweldig ondersteun het. Aanhangers kan uitsien na ‘outentieke’ musiek met ʼn sterk instrumentale aanslag. Ek het besef mense wil meer van my weet. Die liedjies gaan baie meer oor my, my grootwordjare en goed van my kleintyd,” het hy vertel.

Vir meer inligting besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.