Ricus Nel – Ouskool Boerseun

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Ouskool Boerseun is verseker een van 2016 se bestes. Dié album is ’n moet vir elke Afrikaanse musiekliefhebber. Die album het ’n lekker tradisionele countrymusiek-aanslag wat afgewissel word met ’n paar boeremusieknommers soos “Connie se setees” en met die “Wiele” en “Sondebok”-medley.

Die album spreek van ou waardes, samesyn met vriende en lekker kuier. Die album is gebalanseerd met opgewekte liedjies en ’n paar sterk ballades. Die titelliedjie, “Ouskool Boerseun”, is ’n sterk aanspraakmaker vir ’n tweede enkelsnit, maar dis natuurlik die eerste enkelsnit, “Hardekole”, wat tans baie aandag trek.

“Hardekole” vertel van die lekker samesyn met vriende om ’n kampvuur. Hierdie liedjie is ook opgeneem met gaskunstenaars Bok van Blerk, Adam Tas en Refentse.

Daar is ook Engelse nommers in die album soos die Don Williams-medley “Adios amigos” en met “Lord, I Hope this Day Is Good” wat uitstaan.

Al die liedjies in die album is sterk en potensiële enkelsnitte.

Gunstelinge in die album is “Trek laer”, “Binne bly ons jonk” en “Moet net keer of dit gaan beter”.

Die produksie, vervaardiging en verwerkings van die liedjies is van die boonste rakke. Die CD is opgeneem by Manley Studios en die meeste van die instrumente is deur Ricus self bespeel. Ricus kan baie trots wees op hierdie album. Dit gaan voorwaar binnekort in elke huis en motor gehoor word. As jy lekker saam met vriende wil kuier, is hierdie gewis die album om na te luister. Die album word versprei deur Select Musiek. Welgedaan Ricus!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.