Ricus Nel sing Don Williams

Ricus Nel sing Don WilliamsHoewel Ricus Nel lank al bekendheid as ateljeemusikant verwerf, het hy hom eers die afgelope drie jaar as sanger gevestig.

Soos wat ‘n mens uit sommige van sy Afrikaanse liedjies kon agterkom, het Ricus ‘n voorliefde vir country-musiek en daarom is dit dalk geen verrassing dat hy besluit het om ‘n album vry te stel waarop hy hulde aan Don Williams, asook een of ander twee country-legendes, bring.

Die eerste snit op hierdie album is die eerste van drie treffers wat Don op Springbok Radio se Top20 gehad het. I recall a gypsy woman het in 1977 die vyfde plek gehaal en is nou nog in groot aanvraag. Some broken hearts never mend is nog een van Don se groot treffers, maar ironies genoeg was dit die Kojak-akteur Telly Savalas wat in Suid-Afrika ‘n treffer met hierdie snit gehad het. Tulsa time is een van die gunstelinge onder country-kunstenaars en word nog gereeld tydens country-konserte gehoor. Amanda is een van twee snitte op die album wat Ricus al vantevore opgeneem het, en is seker een van Don se heel bekendste treffers. I believe in you is seker een van Don se mees onlangse treffers; dit was in die vroeë 1980’s op die Amerikaanse country-trefferslys. Don se heel grootste treffer was You’re my best friend; met hierdie snit het hy in 1978 die vierde plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal. Lay down beside me was Don se laaste Top 20-treffer in Suid-Afrika.

Ricus bring egter nie net hulde aan Don Williams nie, maar ook aan ander country-legendes. Rhinestone cowboy was sonder twyfel een van die grootste country-treffers van die 1970’s. Glenn Campbell het dit oorspronklik gesing en internasionale sukses daarmee behaal. Dit het die tweede plek op Sprinbgok Radio se Top 20 gehaal. Ricus sing hierdie een in ‘n lae toonaard, en sukkel glad nie met die lae note nie. Dit klink eintlik goed as hy in ‘n lae register sing. Die tweede oudste snit op hierdie album is Gentle on my mind. Die meeste Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers sal dit onthou as die temaliedjie van Bobby Angel se country-musiekprogram met dieselfde naam wat in die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai is. Daar is seker min mense wat weet wie die oorspronklike kunstenaar was. Dit was niemand anders nie as Dean Martin, wat in die 1950’s en 1960’s groot treffers met onder meer That’s amore, Mambo Italaino en Everybody loves somebody gehad het.

It must be love is nog en van Don Williams se groot treffers, maar die volgende snit, Sunday morning coming down, was ‘n groot treffer vir die country-legende Kris Kristoffersen. She’s in love with a rodeo man is nie net al voorheen in sy oorspronklike vorm opgeneem nie, maar Bobby Angel het dit in Afrikaans onder die titel Wals van die lewe opgeneem. Dis egter goed dat Ricus die oorspronklike weergawe ingsluit het. Die laaste snit wat Don oorspronklik gesing het en hier ingesluit is, is Time on my hands. Blue eyes crying in the rain is al deur ‘n spul kunstenaars opgeneem, maar dit is in 1945 deur Roy Acuff opgeneem, terwyl die legendariese Hank Williams in 1951 ‘n treffer daarmee gehad het. Ricus bespeel die mandolien op hierdie opname en dit klink baie goed. Daar is een Afrikaanse snit op die album. Marc Brendon en Don Kelly het Dankie Don geskryf as ‘n huldeblyk aan Don Williams, en dit pas baie goed by die res van die album in.

Soms is ‘n mens maar skepties as ‘n mens luister na kunstenaars wat hulde aan legendes bring, maar Ricus het vorendag gekom met ‘n baie goeie album wat veral by liefhebbers van country-kunstenaars byval sal vind. As jy in hierdie kategorie val, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.