Riebie-revue kraai koning  

Laerskool Van Riebeeckpark het Saterdag koning gekraai in die laerskoolafdeling vir ervare seniorgroepe tydens die Kaleidoscope-revuekompetisie. (Foto verskaf)

Dis nie net die land se skolesportvelde wat die afgelope paar maande uit hul nate bars nadat die Covid-19-pandemie leerders vir bykans twee jaar op die kantlyn gehou het nie. Ook op kultuurgebied word gesing en gedans dat die kranse antwoord gee.

Laerskool Van Riebeeckpark in Kempton Park het Saterdag koning gekraai in die laerskoolafdeling vir ervare seniorgroepe tydens die Kaleidoscope-revuekompetisie wat in die Staatsteater in Pretoria aangebied is.

Die Kaleidoscope-revuekompetisie, wat onder die sambreel van die Tshwane Kunstefees aangebied word, is die grootste kompetisie van sy soort in die land en meer as 30 laer- en hoërskole het sake vanjaar om die gesogte glastrofee uitgesing en -dans.

Dit is die tweede revuekompetisie vanjaar waarin Riebies skoonskip gemaak het. Dié skool se meer as 70 geesdriftige revueleerders het vroeër vanjaar ook tydens ʼn eisteddfod as itemwenners ’n persentasie van 97% behaal.

Laerskool Van Riebeeckpark se senior revuegroep. (Foto verskaf)

“Ons is baie trots op dié groep jong mense, maar terselfdertyd ook baie dankbaar vir die geleentheid wat honderde kinders landwyd weer het om weg van maskers die magiese van die verhoog te kan beleef,” sê Vivian Botha, skoolhoof van Laerskool Van Riebeeckpark.

(Foto verskaf)

“Ons revuetema en boodskap was juis om die lesse uit die pandemie te neem en opnuut te besef dat ons só baie het om voor dankbaar te wees. Byna soos ’n tweede kans op lewe, op liefde. Ons het voorwaar rede om te dans!”

Ofskoon die maande lange inperking en ontwrigting in die normale gang van skoolsake en -aktiwiteite leerders landwyd merkbaar geraak het, glo Botha dat ’n hernieude belegging in jong mense se weerbaarheid en emosionele welstand nodiger as ooit is om hulle vir die toekoms te staal.

“Of dit nou op die sportveld of op die verhoog is, hiér word waardevolle lewenslesse geleer wat veel verder as die kurrikulum strek. Deur saam te staan, saam te werk én saam te sweet kry elke kind blywende padkos en pitkos op sy lewensreis – lank nadat die gordyn die laaste keer op hul skoolloopbaan gesak het.

“In die gees van ons skool se tema die afgelope jaar – Wees die lig en verander die wêreld – glo ons dat die toekoms gebou (sal) word deur dié wat bereid is om brood vir ander te breek. In die klas en kantoor. Op die veld én die verhoog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieka ·

Al die kinders het mooi en hulle harte uitgedans!! Was lekker om te gesien het wat het al die skole kan bied. En die kinders het dit net so geniet!

Leon ·

Wow! Dit laat ons revue van Mooifontein (die buurskool) van 1991 soos ‘n grap lyk. Fantasties en welgedaan!

LIEZL ·

Iemand moet ‘n berig oor Hoërskool Hans Moore se puik vertoning en wen ook instuur. Welgedaan almal, julle het so hard gewerk. Absoluut fantasties om te sien hoe elkeen dit so geniet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.