Rina Hugo vereer: ‘Dit is vir my baie spesiaal’

Rina Hugo. Foto: Verskaf

Rina Hugo het die FAK Prestige-toekenning ontvang vir die bevordering van Afrikaanse musiek die afgelope 40 jaar.

Hugo (69) is Woensdagaand tydens die Cantare Kinderkoorfees in Alberton, Johannesburg, vereer.

Volgens Hugo kan sy nie haar lewe indink sonder die FAK-Sangbundel nie. “Ek het deur my hele skoolloopbaan, jare op universiteit, hier en oorsee, en later as musiekjuffrou en sangdosent met die FAK-Sangbundel onder my arm of in my musiektas deur die lewe gegaan.

“Ek onthou die een (FAK-Sangbundel) met die landsvlag op, toe die oranje een en daarna die groene en nou onlangs was ek baie trots toe ek hoor dat van die liedere wat ek gesing en bekend gemaak het, in die nuutste sangbundel opgeneem is.”

“Ek het as 12-jarige meisie in my eerste sanglesse uit die bundel, Op Vleuels van Gesange, leer sing. Ek onthou hoe ek op my matriekafskeid baie senuweeagtig ‘Die Roos’ gesing het, terwyl my begeleidster my uit die sangbundel begelei. Ek het in vele kunswedstryde in my lewe deelgeneem en kan omtrent nie ’n begeleier onthou wat nie hulle leerlinge uit die FAK-Sangbundel begelei het nie.

“Dit is dus nie vir my snaaks dat die eerste lied wat ek ooit op TV gesing het juis ‘Kom dans Klaradyn’ was nie. Ek weet dat hierdie toekenning aan baie ander musici en kunstenaars toegeken is, mense na wie ek opkyk en wat ek bewonder het. Daarom is dit vanaand (Woensdag) vir my baie spesiaal en ’n groot eer dat ek amper aan die einde van my loopbaan dié toekenning ontvang.

“Ek het in my loopbaan in baie verskillende tale gesing, veral in die klassieke musiekgenre. Daarom baie dankie aan die FAK wat ’n groot rol in my lewe gespeel het en ook ’n groot liefde vir liedere in my moedertaal ontwikkel en gekweek het.”

Johan van Rensburg, Rina Hugo en Danie Langner. Foto: Verskaf

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê Hugo is een van die veelsydigste kunstenaars in Afrikaans.

“Dit is vir die FAK ’n voorreg om vir Rina Hugo vir 40 jaar se bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek ’n toekenning te gee. Dit is ’n dankie vir 40 jaar se werk in Afrikaanse musiek. Dankie vir die wyse waarop jy, Rina, ons taal laat leef het. Dankie vir geslagte Afrikaanse kinders wat met jou note grootgeword het.”

Tydens vanjaar se Cantare Kinderkoorfees het vyf kore, waaronder die kore van die Orionland Kleuterskool, Laerskool Randhart, Laerskool Elspark, Hoërskool Suiderlig en die Cantare Kinderkoor self, opgetree, waar hulle ook van Hugo se liedjies soos “Troepie Doepie” en “Ek sien vandag die son weer skyn” gesing het. Die aand is afgesluit waar sy saam met die Cantare Kinderkoor, sy beskermheer, Coert Grobbelaar, en Franz Geldenhuys, sanger en stigter van die Alberton Academy of Music, “Jersusalem” gesing het.

Rina Hugo en haar man Johan van Rensburg. Foto: Verskaf

Hugo is telkens in haar loopbaan as een van die veelsydigste sangeresse beskryf. Sy en haar man, Johan van Rensburg, is in 1971 getroud nadat hy as leier van die Alabama Studentegeselskap haar “omgepraat” het om by hierdie groep aan te sluit. Twee jaar later het die egpaar na Boston in die VSA vertrek waar sy in 1975 haar meestersgraad in sang aan die New England Conservatory of Music behaal het.

Hugo is in 1978 aangewys as die algehele wenner van die gesogte ATKV Crescendo-sangkompetisie wat lei tot haar eerste plaatopname van ligte musiek, Ek sien vandag die son weer skyn.

In haar suksesvolle loopbaan is haar plate en CD’s talle kere met goue en platinumstatus bekroon, het sy talle eerbewyse ontvang en belangrike musiekpryse gewen. Sy is ook telkens as die gewildste sangeres in die land aangewys en het in verskeie TV-musiekprogramme opgetree.

Die afgelope paar jaar fokus Rina op haar verbintenis met die Christelike Seemansorganisasie. Haar program van geestelike musiek en poësie is reeds meer as 400 keer in verskillende kerke oor die hele land aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gesiggie ·

Goeie ou dae….musiek uit die boonste rak.. Rina Hugo, Sonja Herold … Annelie van Rooyen ..en hul almal lyk nog so mooi en jonk…Well Done Rina Hugo jy verdien dit. Afrikaans bly die beste….

baie geluk ·

Rina lyk nie naby die ouderdom wat julle hier het nie-is dit dalk ‘n drukfout?

Derek Meyer ·

Dankie vir al die wonderlike musiek wat jy aan my gelewer het. Ure se luistervermaak. Jy was nog altyd een van my gunstelinge.

Rina Kotze ·

Aan my naamgenoot, baie baie geluk, jy verdien dit!

Altyd ‘n dame op die verhoog en fynste maniere en mooi gedrag!
Dankie vir die mooi voorbeeld wat jy altyd stel!

Dankie FAK dat julle haar bydrae so erken!

Johan ·

Rina ek wil net vir jou sè jy sing baie mooi van johan vdmerwe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.