Rinel se country-album byna hier

Rinel Day

Rinel Day. Argieffoto.

Sedert sy omtrent vier jaar gelede op die plaaslike musiektoneel verskyn het, het Rinel Day al hoe gewilder geword onder liefhebbers van veral Afrikaanse en country-musiek.

Rinel het in Swartruggens in Noordwes grootgeword, maar woon deesdae in Pretoria. Sy sing al sestien jaar lank en om ʼn sangeres te word, was nog altyd haar lewensideaal. Sy het haar voormalige bestuurder en eggenoot, Michael de Lange, op ʼn jong ouderdom ontmoet, maar dit was eers toe haar paaie met dié van die bekende kitaarspeler en sanger, Deon van der Merwe, gekruis het, wat sy haar eerste tree in die musiekbedryf gegee het.

Hulle het toevallig by ʼn funksie langs mekaar gesit en begin gesels en dit was nie lank voordat sy ʼn kontrak by Deon se eertydse platemaatskappy, Arend Musiek, losgeslaan het nie.

Haar eerste gelyknamige album het in 2012 verskyn en het die treffers “Geluk” en “DJ speel dit weer” opgelewer. Nog ʼn treffer was die duet, “Een somersaand”, saam met Henri Alant.

Haar tweede album, Dit staan in die sterre, was selfs nog meer suksesvol en veral die titelsnit en “Ligjare weg”, het baie gewild geword. Tussendeur het sy en die Groot FM-omroeper en sanger, Riaan Grobler, ook die duet “Mi amore”, wat op Riaan se mees onlangse album was, opgeneem.

Rinel sonder twee kunstenaars uit as haar rolmodelle, naamlik Riana Nel en Shania Twain. Volgens Rinel het Riana, ondanks haar sukses, steeds haarself gebly. Nederigheid is vir Rinel belangrik en sy meen dit is Riana se beste eienskap.

Sy het ook nog altyd van Shania Twain se musiek gehou en sy is vir Rinel ʼn groot inspirasie. Rinel het juis besluit dat haar nuwe album, wat in Oktober uitgereik behoort te word, uit country-musiek sal bestaan.

Dit gaan ʼn dubbele album wees; met een CD wat solo-snitte bevat en die tweede duette saam met onder meer Touch of Class, Manie Jackson, Lance James en selfs Cindy Alter, die hoofsangeres van die 1970’s vrouepopgroep Clout. Die CD gaan ou en nuwe country-snitte bevat; liedjies waarvan sy nog altyd gehou het.

Aangesien sy erken dat sy nie ʼn maklike kinderlewe gehad het nie, het sy nie gehuiwer om by die Jakaranda-kinderhuis betrokke te raak nie. Die beskermheer, Christo Louw, het haar genader nadat sy by die Hart van Jakaranda-fees opgetree het en sy het dadelik ingestem. Sy voel dat dit haar bydrae tot die gemeenskap as ʼn geheel is en sy gaan in Desember by die jaarlikse Liggiefees optree.

Rinel skryf graag oor werklike lewenservarings, alledaagse dinge en mense en hul verhoudings. Sy is juis besig om te werk aan haar volgende Afrikaanse album, wat eers teen aanstaande jaar gereed sal wees. Sy het al onder meer saam met bekende liedjieskrywers soos Emil Struwig, Johan Oberholzer en Arri Opperman gewerk en sy sal dit baie beslis weer doen.

Sy is positief oor die toekoms van Afrikaanse musiek. Sy glo daar is nie ʼn einde daarvoor in sig nie en dat dit sal bly voortleef solank daar goeie kunstenaars en liedjieskrywers is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.