Robbie Wessels beleef allermins droogte met ‘Woestyn’

Robbie Wessels (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse grapjas en sanger Robbie Wessels se jongste album, Woestyn, het pas goue status behaal.

Inhoud Huis, die sanger se platemaatskappy, het dié nuus bevestig. Goue status word verwerf wanneer ʼn kunstenaar meer as 15 000 eksemplare van ʼn album verkoop.

“Dis vir my ’n groot voorreg dat die album goue status behaal het. Ek is baie dankbaar vir die Here vir my talent en vir Inhoud Huis deur wie ek my musiek vrystel. Ek voel baie geseënd en hoop daar is nog heelwat albums in die toekoms,” het die sanger laat hoor.

“Afrikaanse musiek is een van my grootste passies en ek hoop dat ek ’n bydrae kan lewer met my werk. Dis ’n plesier om vir my land en sy mense op te tree.”

Woestyn, wat in Junie verlede jaar uitgereik is, bestaan uit 15 oorspronklike snitte wat deur die sanger geskryf is. Een van die snitte op die album, “Mphe Di Hoenor”, was ʼn blitstreffer en die musiekvideo van dié liedjie is meer as twee miljoen keer op YouTube gekyk.

Wessels het verlede jaar in ʼn onderhoud met Hendri Myburgh van GROOTfm gesê hy het aanvanklik gesukkel met inspirasie vir dié album. Woestyn is sowat drie jaar ná sy vorige album uitgereik.

“Baie mense het my gevra hoekom dit so lank gevat het om di֖é album uit te reik. Ek het so twee jaar lank ʼn droë seisoen beleef waartydens ek nie baie geïnspireerd was nie – soos die naam van die album ook voorstel. Soms kom die inspirasie vinnig en maklik en ander kere moet ek diep delf en lank soek; soos dit ook die geval met hierdie album was.

“Die liedjie ‘Woestyn’ is daarom ook een van die liedjies op die album wat my na aan die hart lê. Ek het daarom ook besluit om die album dieselfde titel te gee. Die musiek op die album vertel ook weer lekker stories en die musiek herinner aan my vorige werk. Daar is weer ʼn goeie balans tussen komedie en ernstiger liedjies.”

Die sanger het bekendheid verwerf as Poena in die televisiereeks Gauteng-alêng-alêng en was onder meer ook te sien in Poena is koning, Jakhalsdans, ’n Saak van geloof, As jy sing en Binnelanders.

Meer as 120 000 eksemplare van sy debuutalbum, My vissermanvriend se pa, is verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike Kaapstad ·

Geluk Robbie jy is skreeu snaaks en ek kan darem se ek het ook 1 gekoop…………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.