Robbie Wessels maak die litte los met nuwe enkelsnit, album

Die sanger en akteur Robbie Wessels, wat bekend is vir sy humoristiese aanslag met snitte soos “Leeuloop”, “Bobjan” en “Khoi and Son”, se splinternuwe album getiteld Die sluise van die hemel is vandag (Vrydag) uitgereik.

Dié album voed egter ook die dieper denkers met liedjies wat elkeen ʼn storie vertel en bevat 12 snitte, elkeen uit Wessels se eie pen. Drie van dié liedjies spog reeds met musiekvideo’s wat altesaam bykans 10 miljoen trefslae op YouTube het.

Die titelsnit, “Die sluise van die hemel”, wat net op die gedrukte album ingesluit is, is ʼn duet saam met Bok van Blerk wat te midde van die voortslepende Kaapse droogte vrygestel is. Wessels het toe reeds vertel dat die Kaap hom na aan die hart lê.

“Dit is nie ʼn liedjie waaroor ek lank moes dink toe ek dit geskryf het nie, want dit was asof dit van bo af vir my gestuur is,” het hy destyds in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die liedjie gesê.

“Ek dink dit het gespruit uit my liefde vir die Kaap, en al is ek nie daar om die moeilike tyd saam met die Kapenaars te beleef nie, gaan my hart uit na die mense daar.”

Dié liedjie is op verlede jaar se Ghoema-toekennings aangewys as die liedjie wat die meeste afgelaai én die meeste gestroom is. Die musiekvideo spog met meer as 5 miljoen trefslae op YouTube.

Wessels sonder die nuwe enkelsnit, “Dans” uit as sy gunsteling op die nuwe album. “Dit is eintlik so vreemd, want ek het al verlede jaar die liedjie geskryf en dis asof dit so gepas is tydens die algehele afsonderingstydperk,” vertel hy.

Bok van Blerk en Robbie Wessels (Foto: Instagram)

Hy verwys ook grappig na sy vriende, die musikante Appel, Jo Black en Emo Adams, in die liedjie. “Ek hou daarvan om kunstenaars wat saam met my in die Afrikaanse mark is in my liedjies te gebruik. Dit is altyd lekker,” lag hy.

“Ons Afrikaanse mannetjies het mos ʼn lawwe kant en ek hou daarvan om belaglike goed te doen, soos daai keer wat ek en Nico Swartz ʼn dance-off in die Menlyn-winkelsentrum gedoen het,” onthou hy.

“Ek het al gesit en dink, ek het soveel keer die begeerte om te dans, al het ek nie goeie ritme nie, maar dan dans ek nie. Ek dink ons dans nie genoeg nie. Ek sit soveel keer en tob oor goed waaraan ek niks kan doen nie, pleks ek maar in daardie tyd gedans het!”

Hy gee toe dat die humoristiese liedjies hom ewe na aan die hart lê as sy ernstiger liedjies getiteld “Die digter”, “Jou gedig” en “Die teenwoordigheid van drie”.

“Ek is geneig om eerder die ligter goed by my vertonings te doen, want dit help mense om te vergeet en die gehoor is nie altyd lus vir swaar of diep musiek nie. Ek kan nie wag om ‘Dans’ op die verhoog te doen nie, ek dink die mense gaan dit baie geniet.”

Die sluise van die hemel is nou op digitale platforms, waaronder iTunes, Apple Music en Spotify, beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.