Robbie Wessels: ‘ʼn Ewige balans tussen diep én laf wees’

Robbie Wessels (Foto: Facebook)

Meer as 15 jaar gelede het Robbie Wessels bekendheid verwerf as die lawwe Poena van die TV-reeks Gauteng-alêng-alêng. Aanhangers was gaande oor dié karakter wat ook gestalte gekry het in liedjies soos “Leeuloop” en “Mphe Di Hoenor”. Maar hy is egter nie nét laf nie, sê hy ernstig; hy is ewe diep ook.

Wessels vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy twee persoonlikhede – sy humoristiese kant en sy dieper kant – is nog altyd in konstante balans.

In die afgelope paar maande het hy baie van sy “dieper kant” blootgelê, vertel hy. Nadat die sanger verlede jaar ná ʼn drie jaar lange stilte na die musiektoneel teruggekeer het, het sy album verlede maand goue status behaal. Die album, getiteld Woestyn, vertel veral oor die droogtetydperk wat hy in sy persoonlike lewe deurgemaak het.

Nou het Wessels saam met die sanger Bok van Blerk vandeesmaand wéér opslae gemaak met hul duet, “Die sluise van die hemel”, wat geskryf is oor die droogte waaronder baie mense in die Wes-Kaap gebuk gaan.

“Ek moet altyd ʼn gesonde balans hou tussen die twee persoonlikhede,” vertel hy. “Ek weet nie noodwendig waar dit vandaan kom nie. Ek het ʼn groot liefde vir diep musiek. Ek het destyds ʼn passie ontwikkel vir musiek soos dié van Theuns Jordaan. Maar ek het vroeg besef daar is hierdie twee sye aan my en ek wil nie die een afskeep nie. Ek wil nie die een afskeep omdat ek meer albums verkoop nie – en dit geld andersom ook.”

Aanhangers kan dié twee sye van hom onder meer sien in liedjies soos “Mphe Di Hoenor” wat meer as twee miljoen keer op YouTube gekyk is en “Die sluise van die hemel” wat in minder as een maand bykans 200 000 keer gekyk is.

Oor “Die sluise van die hemel” sê hy: “Dit is asof die liedjie net die heeltyd in my kop gebroei het,” vertel hy. “Die droogte raak die hele land – nie noodwendig soos dit die Kaap raak nie, maar tog word almal daardeur beïnvloed. Ek het ʼn besonderse liefde vir die Kaap en dit lê my na aan die hart. Ek het aanvanklik nie spesifiek daaraan gedink om ʼn liedjie te skryf nie, maar toe ek op ʼn dag in my kantoor sit en ek tokkel bietjie met die kitaar, was dit asof die melodie vanself na my toe gekom het. Ek het toe eers besluit om woorde by die melodie te voeg en wou uit die staanspoor hê die liedjie moet hoop bring,” sê hy.

Bok van Blerk en Robbie Wessels. Foto: Lili du Toit.

“Dit is nie ’n liedjie waaroor ek lank moes dink toe ek dit geskryf het nie, want dit was asof dit van Bo af vir my gestuur is,” vertel hy. “Ek dink dit het gespruit uit my liefde vir die Kaap, en al is ek nie daar om die moeilike tyd saam met die Kapenaars te beleef nie, gaan my hart uit na die mense daar.

“Voordat ek Woestyn uitgereik het, het ek gevoel ek moet rus. Ek het ʼn droë seisoen in my eie lewe beleef. Dis waar die titelsnit vandaan gekom het – dit het die seisoen in my lewe beskryf. Toe Bok in ʼn onderhoud oor die duet gesê het dat die liedjie ʼn dieper betekenis as hoop vir reën sou kon hê, het ek besef dat ek dit wel ook so in my onderbewussyn besef het.”

Hy raak ewe passievol wanneer hy oor sy humoristiese sy praat. “Ek lag nog elke keer as ek dink aan hoe die idee vir ‘Mphe Di Hoenor’ ontstaan het,” sê hy. “Dis een van daardie liedjies wat net toevallig gebeur het. Ek het saam met ʼn groep vriende gebraai by my huis. Ons het amper al die steak gebraai en moes toe nog ʼn heel hoender ook oor die kole gooi. Die hoender het net daar gelê en my vriend Matthys sê toe uit die bloute: ‘Gee bietjie daai hoenor!’ Dit was asof daardie woord in my kop bly weergalm het. Ek kon nie ophou daaraan dink nie en die liedjie het homself op die einde geskryf. Ek het gedink ek moet hom vergoed, maar hy is net bly hy kon my inspireer.”

Dié twee sye van Wessels sal nog lank ten toon gestel word, aangesien die sanger reeds begin het om aan nuwe projekte te werk. Hy wil egter nie nou té veel verklap nie, behalwe dat hy beoog om aanhangers steeds óf ʼn traan te laat pink óf hulle te laat skaterlag.

Woestyn is beskikbaar in musiekwinkels en op iTunes. Vir meer inligting, besoek Wessels se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.