Rockgroep se Europa-toer in foto-uitstalling vervat

Een van die foto's wat by die uitstalling te sien is.

Een van die foto’s wat by die uitstalling te sien is.

Aanhangers van die rockgroep Fokofpolisiekar sal weet dat dié groep ook bekend is vir hul fotografie van die groep se kaskenades, en eersdaags word ʼn uitstalling van dié gesogte foto’s by hul splinternuwe kuierplek, Fokof Bar, in Pretoria gehou.

Jaco Snake Venter, tromspeler vir die groep en self ʼn kranige fotograaf, se werke is saam met dié van Liam Lynch, wat al jare vir die groep foto’s neem, by die uitstalling te sien.

Venter het aan Maroela Media vertel hy en Lynch het mekaar in die Kaap raakgeloop en daaroor gesels om ʼn gesamentlike uitstalling te hou. Daar is die idee van die Droom Hoog-uitstalling gebore.

Hy verduidelik die foto-uitstalling is ʼn tydkapsule van ʼn tydperk van drie maande uit Fokofpolisiekar se lewe.

“Ons was in daardie stadium in die beginfase om ʼn nuwe kortalbum, ook getiteld Droom Hoog, op te neem. Ons het toe besluit om die proses te dokumenteer, waar Liam ons afgeneem het terwyl ons in die ateljee was. Ek het ook ʼn paar foto’s van dié proses geneem. Daarna het ons ʼn kort toer na Europa gedoen, en ek het weer foto’s van ons geneem terwyl ons op reis was.”

Venter gee toe om slegs 22 foto’s vir die uitstalling uit die magdom foto’s wat hy en Lynch geneem het te kies, was soos tande trek.

Dié foto is ook tydens die opname van 'Droom Hoog' deur Liam Lynch geneem. (Foto: Instagram via Fokofpolisiekar)

Dié foto is ook tydens die opname van ‘Droom Hoog’ deur Liam Lynch geneem. (Foto: Instagram via Fokofpolisiekar)

“Daar is so baie foto’s, maar nie almal van hulle vertel noodwendig die storie wat ons wil vertel so goed nie. Ons het uiteindelik ʼn paar kategorieë geskep, soos ouderdom en familie, en dan ʼn foto gekies wat ons voel daardie kategorie die beste uitbeeld. Daar is byvoorbeeld ʼn baie mooi foto van Francois (van Coke, hoofsanger) en Hunter (Kennedy, kitaarspeler en liriekskrywer), wat kyk hoe hulle dogtertjies, Alex en Maria, speel, wat baie goed gewerk het vir die familiekategorie.”

Daar is ook onder meer ʼn foto wat Lynch geneem het van Van Coke tydens sy Francois van Coke en Vriende-konsert by die Sun Arena in Pretoria, ʼn foto wat Venter van die verhoog af geneem het tydens hul toer in Amsterdam en waar die groep op ʼn lughawe vir ʼn vlug wag.

“Dit is onmoontlik om al die foto’s uit te stal en daarom het ons verskillende redenasies uitgewerk vir hoe ons die uiteindelike 22 gekose foto’s vir die uitstalling gaan kies,” sê Venter.

Volgens Venter het die vorige foto-uitstalling, wat verlede jaar in die Kaap gehou is, baie goeie terugvoer ontvang. “Die foto’s was egter nie daardie aand te koop soos dit gaan wees tydens die uitstalling in Pretoria nie. Die Pretoriase uitstalling lok reeds baie belangstelling, so ons hoop dat ons baie voete deur die deur sal hê.”

Lynch en Venter sal saam met die res van die groep by die uitstalling teenwoordig wees. “Miskien sal ons ook ʼn paar van die foto’s kan teken, ons sal moet sien hoe die aand verloop.”

Die 22 geraamde foto’s wat uitgestal gaan word, sal net so te koop wees en sal op dieselfde aand ná 22:00 huis toe geneem kan word. Die A2-grootte foto’s kos R2 500 en die A3-grootte foto’s kos R2 000. Al die foto’s is in boksrame geraam.

Diegene wat nie ʼn geraamde foto op die aand van die uitstalling aankoop nie, kan ʼn bestelling plaas by [email protected]. A2 ongeraamde drukke kos R1 000, geraamde drukke kos R2 195. A3 ongeraamde drukke kos R800 en geraamde drukke kos R1 500.

Die uitstalling vind op Vrydag 15 Maart by Fokof Bar in Lynnwood, Pretoria, plaas. Die uitstalling begin om 18:30 vir 19:00 en daar is geen toegangsgeld betaalbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fof ·

Knap gedaan kerels, het jul bar vreeslik baie geniet, julle is tops!! Weet nie of ek meer van jul musiek of bar hou nie hahah

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.