Romanties- Ryan Walt en Deon van der Merwe

RomantiesIn 1976 het die Romeense panfluitspeler Gheorghe Zamfir bekendheid in Suid-Afrika verwerf toe hy ‘n treffer met Summer love gehad het.
Dit was die eerste keer wat Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers aan ‘n panfluirt as musiekinstrument blootgestel is, maar verskeie kunstenaars het in sy voetspore gevolg. Een van hulle is Ryan Walt, wat al verskeie albums opgeneem het, en vandag seker die enigste bekende panfluitspeler is wat nog aktief is in die bedryf.
Ryan het nou met die bekende multi-instrumentalis Deon van der Merwe saamgespan en twee CD’s waarop hulle onderskeidelik panfluit en klassieke kitaar speel, vrygestel. Romanties is die eerste van die twee CD’s wat uitgereik is, en hierop verskyn ‘n aantal bekende kntemporêre snitte, waarvan ‘n mens nie noodwendig gereeld instrumentale weergawes hoor nie. Die eerste snit is Caravans, die tema uit die gelyknamige rolprent. Die musiek vir die rolprent is deur Mike Batt gekomponeer, en Johan van Rensburg het ook onlangs ‘n klavieropname daarvan gemaak. ‘n Musiekvideo van die oorspronklike weergawe verskyn onderaan. Die volgende snit is die bekende Don’t cry for me Argentina, uit die Andrew Lloyd Webber-musiekblyspel Evita. Deon se kitaarwerk op hierdie snit is baie goed. El condor pasa was een van die treffers vanaf Simon and Garfunkel se laaste album, Bridge over troubled water. The lonely shepherd is ‘n komposisie van James Last, en Ryan is beslis nie die eerste panfluitspeler wat hierdie snit opneem nie. My friend the wind was seker Demis Roussos se bekendste treffer, en Ryan en Deon se opname klink baie goed.
Elizabeth-serenade kan amper as ‘n klassieke snit beskou word; dit was ‘n treffer vir die Gunther Kallmann-koor in die 1960’s. Nog ‘n snit wat amper in dieselfde kategorie val, is die bekende La paloma, wat oorspronklik ‘n treffer vir Victoria de los Angeles was, maar ook intussen deur verskeie ander kunstenaars opgeneem is. Een van die grootste instrumentale treffers tot nog toe was Vangelis se tema van die rolprent Chariots of fire. Weer eens is Deon se kitaarwerk op hierdie snit baie goed. Die volgende twee snitte kom uit Andrew Lloyd Webber-musiekblyspele, naamlik Love changes everything uit Aspects of love en Any dream will do uit Joseph and the Amazing Techincolour Dreamcoat. Die verwerking van laasgenoemde snit herinner baie aan dié van Jason Donovan se trefferopname van die vroeë 1990’s. Een van die grootste verrassings op die album is George Baker Selection se nr. 1-treffer Paloma blanca. Die volgende snit is ‘n eietydse treffer wat ouer is as wat mense dink, naamlik Maggie, wat deur Foster and Allen gewild gemaak is. Een van Celine Dion se groot treffers was die temaliedjie uit Titanic, naamlik My heart will go on. Ryan en Deon se opname van hierdie snit is baie goed. Die laaste snit op die album is die bekende Gloryland.
Die meeste mense het een van twee uiteenlopende menings oor panfluitmusiek; hulle is mal daaroor of hulle kan dit nie verdra nie. Met hierdie album het Ryan en Deon gewys dat dit by ‘n breë gehoor byval kan vind, veral omdat die panfluit met ‘n kitaar gekombineer word. As jy kan hierdie tipe musiek hou, kan jy hierdie album gerus by jou versameling voeg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.