Romanz-manne herenig vir Optog!-toer

Romanz-lede. (Foto: Instagram)

Die Romanz-lede. (Foto: Instagram)

Die minnesangers van die groep Romanz, wat bestaan uit Adam Barnard, Louis Loock, Burgerd Botha en André Venter, het herenig om te toer vir die Optog!-konsertreeks en is dié naweek op Bloemfontein en Kimberley te sien.

Die splinternuwe Optog!-teaterinisiatief, waarvan Nataniël die beskermheer is, is die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat poog om op innoverende wyse weer van Suid-Afrika se gewildste musiek- en teaterproduksies planke toe te bring.

Barnard, wat ly aan die neuropatie-sindroom wat gekenmerk word deur die verlies van gevoel in ledemate, soos die hande, en gevolglik ʼn nieroorplanting moes ondergaan, vertel die groep is ongelooflik opgewonde om weer vir die eerste keer in maande saam op te tree.

“Ek is veral opgewonde, want ek het nie gedink ek sal ooit weer op ʼn verhoog staan nie. So ons sien verskriklik uit [daarna],” sê hy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ons is nog al die jare eerder vriende as kollegas en ek glo mense kan dit sien ook. My sololoopbaan voel soms vir my soos werk, want al is dit vir my ʼn passie moet ek alleen reis, maar wanneer ek saam met die manne is, is dit net pret en plesier,” sê Barnard.

Loock, wat deesdae in Somerset-Wes in die Kaap woon en in Kaapstad as litigasieprokureur praktiseer, beaam dit.

“Wanneer ons saam sing, neem dit ons ook terug na die ongelooflike jare wat ons vantevore saam gesing het en dit voel asof ons terug gaan in tyd. Ons herleef die tye wat ons die geleentheid gehad het om die volkslied uit te voer en in Monaco op te tree. Dit is natuurlik ook vir ons lekker wanneer ons aanhangers opgewonde raak wanneer ons die liedjies waarvoor hulle lief is, soos “My hele hart” en “Solitaire”, uitvoer,” vertel Loock.

Hy voeg by dat hul vorige optredes by onder meer Gospel Skouspel hoofsaaklik ten bate van Barnard se gesondheid was en dat dit nou die eerste keer is wat hul weer ʼn normale Romanz-program gaan uitvoer.

Adam Barnard. (Foto: Adam Barnard via Facebook)

Adam Barnard. (Foto: Adam Barnard via Facebook)

Barnard beaam dat die groep nie veel veranderinge aan hul gewone repertoire gemaak het nie. “Mense verlang na die gewone Romanz-musiek soos hulle dit ken, so ons wil hulle nie teleurstel nie. Dit is vir ons ook lekker om al die ou bekende treffers te sing.”

Loock skerts dat hy nou vir homself “ʼn regte werk gekry het”, maar dat hy graag tyd vir Romanz inruim. “Ek trek dus elke dag steeds ʼn pak aan, maar ek trek nou net ʼn toga bo-oor aan. Mense sê altyd vir my dat ek seker nie op my senuwees raak in die hof nie, omdat jy daar ook voor mense moet wees. Ek hou vol dit is glad nie dieselfde nie, want in die hof klap niemand vir jou hande na die tyd nie,” skerts hy.

Romanz is op 22 en 23 Februarie, 9 en 16 Maart en 7 April saam te sien as deel van die Optog!-konsertreeks. Kaartjies is beskikbaar by iTickets. Besoek die Optog!-webwerf vir die volledige toerprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annetjie ·

Wow dit is fantastiese nuus kanni wag om jul te hoor ni . Sterkte Adam . Jul manne is great !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.