Roulette-NRG

Roulette NRGDrie jaar gelede is NRG se eerste CD vrygestel, en sedertdien het ‘n mens gewonder wanneer hulle dit met ‘n nuwe een sou opvolg.

Verlede jaar het hulle ‘n nuwe snit, Roulette, vrygestel om mense lus te maak vir nog nuwe musiek, en dit het die titelsnit van hul pas vrygestelde nuwe album geword. Dié snit was natuurlik ‘n treffer op die meeste radiostasies en die liriekvideo verskyn onderaan. Die huidige treffer vanaf die album is die volgende snit, naamlik Sexy baby. Dit is egter feitlik onmoontlik om ‘n objektiewe mening daaroor te gee, daarom sal ek geen verdere kommentaar lewer nie. Heuningsoet het ook al die trefferslys van minstens een radiostasie gehaal, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Onvoorwaardelik is ‘n pragtige snit, en ‘n mens kan net hoop dat dit ook ‘n treffer sal word. Malverlief op jou is so reg in die kraal van die jonger luisteraars op wie hierdie album hoofsaaklik gemik is. Ek kan jou nie keer word op die oomblik as ‘n moontlike treffer genoem, en weer eens kan ‘n mens verstaan hoekom. Baie mense sal hulle met die woorde kan vereenselwig. Fluit-fluit sluit hierby aan, maar klink heeltemal anders. Boombox sal die dansvloere gou vol kry, en die lirieke is ook heel skerp. Energie is nog ‘n goeie snit, en hierin sê hulle presies wat vir hulle belangrik is in die lewe. Sommige mense sal die lirieke dalk as naïef beskou, maar jonger luisteraars sal nie omgee nie.

Daar is twee Engelse snitte op die album, en dit is die enigste twee wat al voorheen opgeneem is. The Vamps het She walks like Rihanna oorspronklik opgeneem, en dit kan ook ‘n treffer vir NRG word. Bomskok is egter nog ‘n goeie oorspronklike snit. Die woorde van Stop, drop en rol is baie goed; weer eens is dit veral jonger luisteraars wat hiervan sal hou. Mal vanaand vertel die storie van ‘n ou wat met ‘n meisie uitgaan, maar nie eens weet wat haar naam is nie. Weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Daar is drie akoestiese snitte op die album. Die eerste een is die titelsnit, wat heeltemal anders klink. Ek moet eerlik wees; ek verkies die akoestiese weergawe ver bo die een wat aan die begin van die album voorkom. Die volgende een is ‘n verrassing; ‘n uitstekende akoestiese weergawe van Miley Cyrus se treffer Wrecking ball. Die laaste snit is die akoestiese weergawe van Mayday, een van die treffers vanaf hul debuurtalbum. Hulle kan gerus ‘n hele album in ‘n akoestiese styl opneem, vir diegene wat nie noodwendig na die tipe musiek luister waarvoor hulle bekendheid verwerf het nie.

Hierdie album is ongetywfeld op die jonger luisteraar gemik, maar daar is tog genoeg snitte wat by ‘n groter gehoor byval sal vind. Daar is baie snitte wat treffers kan word, en daarom kan dit sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.