Rudi Claase is aan’t sing met nuwe toer

Rudi Claase is tans besig met ‘n splinternuwe toer (foto: verskaf)

Die kollig is nou volwaardig op die sanger en liedjieskrywer Rudi Claase wat binnekort die land plat toer met ʼn produksie van sy eie musiek.

Claase spog reeds met meer as 700 liedjies wat uit sy pen gevloei het en is al 21 jaar in die plaaslike musiekbedryf doenig.

Sy musiektoer, wat reeds in die Kaap gaan draai het en op pad is Rustenburg toe, vier sy lang en suksesvolle loopbaan. Deur die loop van die vertoning vertel hy ook die storie agter die storie van waar, wanneer en hoekom die liedjies geskryf is en staaltjies oor Claase en die kunstenaars vir wie hy die liedjies geskryf het.

“Ek voel ongelooflik geseënd dat ek suksesvol kon wees vir so lank, veral in hierdie wispelturige bedryf. Om dit te vier het ek ʼn nuwe vertoning met die titel Van my wysie af geskryf. Ek dink dis baie gepas want mense weet dat ek al heel bo en heel onder was, ek het regtig al deur swaar dinge gegaan. Om dit in die openbare oog te doen maak dit soveel erger.

Van my wysie af is ʼn metafoor vir die tye toe dit miskien die donkerste was, maar die mooiste musiek het daaruit gekom.”

In Van my wysie af onderneem Claase om van sy grootste treffers, asook van die liedjies wat hy vir ander kunstenaars geskryf het, te sing.

“Mense lag, hulle huil, hulle is deurmekaar. Dit is regtigwaar vir my so lekker om vir die eerste keer prontuit, op die man af en eerlik oor my waarheid te wees.

“Ek sê altyd vir mense, ek kan agter ʼn klavier gaan sit, een woord gebruik en ʼn liedjie skryf. Dit sal werk, dit sal rym en dit sal goed wees.”

Claase voel egter dat meeste van sy liedjies vir hom gegee word.

“Die liedjies wat ek voel moes gebore word, word vir my gegee. Dis gewoonlik op die snaaksste plekke wat die Vader my met ʼn liedjie slaan. Ek hoor gewoonlik die koor se melodie en woorde in my kop. Dit speel gelyk en dan weet ek die liedjie moet geskryf word – die liedjie word letterlik vir my gegee.”

Hy benadruk dat dit ʼn eer is om sy talent met ander te deel.

“Ek word gestuur om dit vir die wêreld te gee. Die grootste voorreg van al hierdie liedjies is dat ek die eer het om in ander mense se loopbane in te klim en vir hulle iets te gee wat die Vader vir my gegee het. Daardie verryking is my dankbetuiging teenoor die Almagtige vir dit wat vir my gegee het.”

Claase se passie lê in musiek, en hy leef dit daagliks op verskillende maniere uit.

“Daar is dae wanneer my klavier my absolute euforie is. Waar ek net kan sit en myself verloor in die oomblik. Mozart het gesê dat musiek in die stilte ook leef, en in daardie stiltes voordat jy musiek maak, daardie oomblikke wat jy asemhaal voordat jy uiting gee, daar voel ek een met alles wat waar is.”

Hy leef ook vir die persoon wie hy is wanneer hy op die verhoog is.

“Ander kere is ek Rudi Claase, die sanger, die musikant en kunstenaar. Nie dat dit ʼn front is nie, dis net ʼn ander deel van my. Daar vind ek ook my tuiste.”

Claase het aan Maroela Media vertel een van sy grootste hoogtepunte in sy loopbaan het nie op plaaslike bodem plaasgevind nie.

“‘Sewe Oseane’ wat ek vir Andriëtte geskryf het, is in Nederlands vertaal en die Nederlandse superster Belinda Kinnaer het dit opgeneem en dit het nommer een geslaan in Nederland, waar dit vir ʼn jaar gebly het. Ek word toe genooi as eregas om saam met haar te toer. Ons het by ʼn stadion opgetree, en om te sien hoe 25 000 mense saam met elke woord sing wat jy oorspronklik geskryf het, was ongelooflik.”

Claase se musiek is ook al in ander tale insluitend Duits en Frans vertaal.

Aanhangers van Claase se musiek kan ook binnekort uitsien na nuwe enkelsnit wat oor ʼn maand uitgereik word.

  • Vir meer inligting oor die Van my wysie af-toer en om kaartjies daarvoor te bespreek, besoek Rudi Claase se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.