Rudi Claase oor loopbaan en 700 liedjies uit sy pen

Rudi Claase is onlangs deur die ATKV vereer met die gesogte Afrikoon-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. (Foto: Verskaf)

Rudi Claase is onlangs deur die ATKV vereer met die gesogte Afrikoon-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Rudi Claase is een van die min Afrikaanse kunstenaars wat op die ouderdom van 36 kan spog met ʼn skatkis van meer as 700 oorspronklike snitte uit sy eie pen.

Dié musikant, wat reeds op vierjarige ouderdom agter die klavier ingeskuif en homself leer speel het, het gewild geraak onder Afrikaanse musiekliefhebbers toe hy destyds saam met die sangeres Corlea Botha as die sangduo Die Lieflinge opgetree het.

Hy was 12 jaar oud toe hy twee keer die destydse “Reik na die sterre”-sangkompetisie gewen het.

Sedertdien het sy musikale loopbaan van krag tot krag gegaan en toe sy vorige platebaas hom gevra het om ʼn liedjie vir die gospelsangeres Ronéll Erasmus te skryf, sou hy nie kon droom dat nog ʼn hele rits treffers vir bekende Afrikaanse kunstenaars sou volg nie.

Talle van Claase se skeppings het volksbesit geword, soos Juanita du Plessis se “Tussen woorde”, Die Lieflinge se “As ek sing”, Arno Jordaan se “Engele” en Andriëtte se grootste treffer, “Sewe oseane”.

Hy is onlangs tydens ʼn spoggeleentheid deur die ATKV vereer met die gesogte Afrikoon-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Dié toekenning vereer mense of ikone wat die Afrikaanse taal bevorder deur die kunste, soos skrywers, digters en in Claase se geval, in die musiekbedryf.

“Dié toekenning is vir my baie spesiaal en dit het ʼn ereplek in die ateljee waar ek daagliks my liedjies skryf,” vertel Claase.

Claase, wat lief is vir die Afrikaanse taal en die digkuns van Ingrid Jonker, vertel dat lirieke en melodieë reeds van kindsbeen af vir hom as tweede natuur kom. Daarom lê dié gesogte ATKV-toekenning hom nóg nader aan die hart.

“Dit is so ʼn groot eer om die toekenning te ontvang. Hierdie is nie net die publiek of ʼn paar mense wat jou vereer nie, maar die komitee moet ook instem dat die ontvanger goed genoeg is vir dié toekenning. Om dus in jou bedryf erken te word is ʼn reusevoorreg. Die meeste mense hoor ʼn liedjie en ken die sanger, maar min mense weet wie die kunstenaar is wat die lirieke skryf,” voeg Claase by.

Rudi Claase. (Foto: Facebook via Rudi Claase)

Rudi Claase. (Foto: Facebook via Rudi Claase)

Hy sonder nie maklik een liedjie in sy versameling uit as sy gunsteling nie, maar verklap dat “Sewe oseane” tóg ’n spesiale plek in sy hart het. Nie net het die lied vir Andriëtte groot sukses op plaaslike bodem beteken nie, maar is dit ook deur die Nederlandse sangeres, Belinda Kinnear,  vir haar eerste soloalbum opgeneem. Die snit was byna dadelik ʼn no. 1-treffer in dié Europese land.

“Ek het soveel herinneringe van drome by die see oor hierdie lied. Dit is vir my baie spesiaal. Dit was ook vir my ʼn groot eer toe Belinda my by haar 25ste vertoning gevra het om die liedjie as ʼn duet saam met haar te sing,” sê hy.

Claase glo die liedjieskryfproses is vir hom maklik omdat sy skryftalent van die Here af kom. “Liedjies verskyn in my kop. Dit is vreemd – ek hoor gewoonlik die koor met musiek en lirieke in my kop. Somtyds kom dit baie vining en ander kere vat dit ʼn bietjie langer. Dit is ook vir my makliker as ek vir ʼn spesifike stem skryf, want dan het ek ʼn idee van wat hulle kán sing.”

Vra jy hom wat maak ʼn goeie liedjie is sy antwoord eenvoudig: “Die titel en die koor moet jou vasvang. Goeie liedere het goeie titels. As mense van die melodie hou, sal hulle weer luister, en dan hoor hulle die krag van die lirieke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Deloris ·

RUDI, jy bly so spesiaal en n talent wat geen woorde kan beskryf nie.

Liza ·

Nee kyk Rudi jy is ‘n yster…….jou stem, jou mens wees en as ek so luister na jou die mooi Rudi van binne en buite……vandag kan ek se ek is trots op jou…… En kan jy nie mooi sing en songs skryf nie……..waw waw ……..God het jou sulke wonderlike en mooi talente gegee en ja jy gebruik dit pragtig……Soos Deloris se jy is baie spesiaal en vir my is jy spesiaal…….jy het diep in my hart gekruip…..geluk met die AKTV toekening ook……wil meer van jou hoor……skryf boetie skryf…….

Lindie ·

Baie geluk Rudi – ek het geweet toe ons nog saam in Laerskool Sonlandpark was jy gaan groot hoogtes bereik! Baie baie geluk .

Heleen ·

Rudi, min kunstenaars het daardie “magic”! Jy het dit verseker.. Ek droom nog steeds van een laaste optrede saam met Corlea. Ja, ek weet, ek sê maar net…Almal wil dit hoor/sien!
Baie geluk met al jou wonderlike prestasies – en wens jou net die beste toe, jy verdien dit, sowaar!

Gesiggie ·

Baie geluk Rudi… jy sing soos n engel”’ ek mis nou nog jou en Corlia Botha se stemme saam, ai wat kan dan mooier wees….well done

VanAfrika ·

Sewe oseane pas so by Andriette se stem, speel die liedtjie gereel oor my sel.

As jy sing is n wêreld klas liedtjie. Sal dit nou nie awesome wees as al drie Die Lieflinge dames wat saam met Rudi gesing het saam met hom op die verhoog optree nie.

Dankie vir goeie liedtjie en musiek Rudi. Mens weet net altyd as jy iets sing en skryf, is dit n sukses en iets wat altyd ons aandag trek. Baie geluk met jou toekenning.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.