Die sanger en liedjieskrywer Anton Myburgh sê hy gaan Donderdagoggend vir ʼn laerugoperasie ná hy skielik in Desember pyn in sy bene ontwikkel het.
“Die pyn het my aanvanklik nie eintlik veel gepla nie. Ek het maar gedink dit is net stywe spiere,” vertel hy nederig. Die pyn het egter vinnig vererger, so erg dat Anton (55) nou nie meer kan loop of staan sonder dat die pyn hom vinnig heeltemal lamlê nie.
Die sanger van treffers soos “Biker Angel” en “Dream masjien” het verlede week eers die volle omvang van sy situasie besef nadat sy bene ewe skielik heeltemal lam geword het.
“Ons het omvattende toetse laat doen, selfs vir Covid-19 omdat spierstyfheid een van die simptome is. Skanderings het egter gewys my rug lyk kompleet soos iemand wat in ʼn motorongeluk was. Daar is erge drukking op die senuwees wat deur die diskushernia veroorsaak word.”
Die sanger wat ook treffers soos “Ek kan lewe” vir Cora Marie, “Tattoo” vir Pieter Koen en “Saartjie van Biesiesvlei” vir Bobby van Jaarsveld geskryf het, is ʼn voltydse prokureur wat hoofsaaklik eise namens sy kliënte teen die Padongelukkefonds en vir mediese nalatigheid indien.
“Van my kliënte se bene is geamputeer of verlam, maar ʼn mens besef nou eers jy weet nie regtig hoe dit voel nie.
“Jy voel hulpeloos, want jy het nie beheer oor jou bene nie. Jy sukkel om die gewone dinge te doen; jy kan nie eens sommer net opstaan om vinnig ʼn lêer te kry, of gou iewers heen te ry nie – ander mense moet dit nou vir jou doen.”
Anton, wat tans in Vanderbijlpark, Gauteng, woon, sê hy is egter heeltemal oorbluf oor al die goeie wense wat ingestroom het sedert sy vriend Manie Jackson ʼn inskrywing op Facebook oor sy gesondheid gemaak het.
“My foon het skielik onophoudelik gelui en ou skoolvriende van tot Australië het kontak gemaak om my beterskap toe te wens. Musikantvriende het van oral gevra hoe hulle kan help. Dit het my laat besef ek is beslis nie alleen in die wêreld nie.”
Anton is vol hoop dat die operasie goed sal verloop, en sê hy verdien eintlik glad nie al die aandag nie.
“Baie mense sukkel met die probleem; ek is beslis nie ʼn uitsondering nie en ek het die ondersteuning van my gesin en vriende.” En dit gee hom beslis ook hoop op vinnige herstel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Sterkte. Sal dink aan jou Donderdag-oggend. En daarna.
Sterkte, ou vriend! Ek is ook ‘n musikant wat nou nie meer musiek maak nie as gevolg van kanker.
Beste liedjie van hom is Boer en sy Roer. Luister dit graag.