Ruhan du Toit en sy vrou deel liefdesverhaal in sielvolle video

Ruhan du Toit se vrou, Marinda, verskyn saam met hom in sy nuwe musiekvideo. (Foto: Skermgreep)

“Mag ek jou laaste wees” is vir gereelde luisteraars van die sanger Ruhan du Toit se musiek gʼn nuwe snit nie, maar dié kragballade lê die sanger en sy vrou, Marinda, só na aan die hart dat hulle besluit het die liedjie moet ʼn musiekvideo kry.

Daarom het hulle kragte saam met Quintin van der Merwe van Quintessential Media gesnoer om ʼn pragtige musiekvideo vir “Mag ek jou laaste wees” te vervaardig.

Die video is geskiet by Rosemary Hill naby Bronkhorstspruit, waar Ruhan en Marinda gereeld fiets ry. Anja Nieuwoudt van Boer soek ʼn vrou-faam en haar kêrel, Luaan Pieterse, vertolk die paartjie in die video.

“Daar is op die perseel ʼn vervalle gebou wat pragtig is vir foto’s en video’s en ek het altyd gesê ek sal graag daar iets wil skiet,” vertel Ruhan aan Maroela Media.

Ruhan en die donkerkop Marinda, wat albei voorheen getroud was, sê die liedjie weerspieël hul verhouding en is so naby aan die huis dat hulle opgewonde was om ʼn musiekvideo vir die liedjie te maak.

“Dit was eintlik Marinda se idee. Ons albei voel die liedjie vang ons liefdesverhaal so perfek vas en dat ons so gelukkig is om weer ʼn kans te kry op liefde.”

Ruhan verklap dat hy en Marinda nie Valentynsdag vier nie, bloot omdat hulle elke dag iets spesiaal probeer doen om tyd saam deur te bring.

“Ons leef en werk saam, maar ons maak elke dag tyd om vir mekaar te sê ons is lief vir mekaar. Dit is vir ons uiters belangrik om in elke dag se saamwees mekaar te herinner aan ons liefde vir mekaar.”

“Mag ek jou laaste wees” verskyn in Ruhan se jongste album, Stockholm Sindroom, wat verlede jaar uitgereik is.

“Ek hoop die musiekvideo sal vir mense dieselfde warm gevoel gee as wat ons gehad het toe ons dit geskiet het,” sê Ruhan.

“Mag ek jou laaste wees” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Mag ek jou laaste wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.