Ruhan vier 30 jaar in bedryf: ‘Ek wou eg aan myself bly’

Ruhan du Toit vier 30 jaar in die musiekbedryf. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Ná 30 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, vergelyk die sanger Ruhan du Toit dié industrie met ʼn wiel wat konstant draai: dán is jy bo en dán is jy weer onder. Deur die jare heen het twee reëls egter vir hom byna ononderhandelbaar gebly: om ongeag die jongste giere getrou aan homself as kunstenaar te bly, en om nooit sy menslikheid te verloor nie.

Sy jongste album, eenvoudig getiteld Ruhan du Toit, is beide ʼn voortsetting én viering hiervan.

“Ná soveel jaar in die bedryf, kan ek met redelike sekerheid sê dat ek weet wie ek is, beide as persoon en kunstenaar, en dat ek my gehore goed leer lees het. Jy kan die beste sanger én akteur daar buite wees, maar gehore kan sien as jy nie in jouself glo of opreg is nie,” vertel hy in Maroela Media se ateljee.

Nie dat die “Monumentaal”-sanger nie enorme respek vir meer sogenaamde “partytjiemusiek” het, of selfs al oorweeg het om ʼn ekstra “doef-doef” in sy eie liedjies te sit nie.

In sy dae as een helfte van die sangduo Touch of Class het hy en sy sangmaat, Deon van der Merwe, gehore graag met plaaslike treffers soos “Ek en my meisie” en “Stukkie van der Merwe” bederf.

“Dit is met tye uitdagend, want die mark druk ʼn mens soms in ʼn sekere rigting, maar kunstenaars soos Theuns Jordaan kon gehore boei al het hy nie daardie tipe styl gesing nie. He stuck to his guns, en dis wat ek ook besluit het om te doen. Ek wou eg bly aan wie ek as persoon is en doen wat ek weet vir my as kunstenaar werk.”

Ruhan nog altyd tuis op verhoog

Van kindsbeen af was dit duidelik dat musiek deur Ruhan se are loop.

Danksy sy ouers, Johan, oftewel “Twakkies”, en Zelda du Toit, wat ook tuis agter die mikrofoon is, kon hy van jongs af sy droom uitleef. Ook sy jonger broer, Jeanré, is ʼn kranige sanger.

In 1994 op 11-jarige ouderdom het ʼn klein blondekop Ruhan se eerste album, Die Hemel is, die lig gesien. Die Du Toits het ook gereeld as gesin saam by kerkbasare, kermisse, ouetehuise en skoolsale opgetree.

“Ek het wel van jongs af geleer dat ʼn sangloopbaan opoffering verg. Ek het op ʼn gevangenisterrein grootgeword en moes saans altyd vroeër as my maats ingaan huis toe as dit koud was om my stem te beskerm. Rugbywedstryde is baie Saterdae ook vir optredes prysgegee.”

Tog meen Ruhan het sy ouers ʼn gesonde balans probeer handhaaf.

“Hulle wou nie hê dat alles té vinnig té ver gaan nie. Hulle wou hê ek moet ʼn skoolkind bly, en dit maak nou vir my baie sin. Min kindersterre volg hul loopbane enduit, want dit is net normaal as kind om ʼn ander rigting vir jouself te kies as jy te hard in ʼn sekere een gedwing word. Vir my was daar wel nooit ʼn ander pad nie. Ek het geweet dis wat ek wou doen.”

Hy en sy broer het vir tien jaar lank as ʼn duo opgetree waartydens hul saam twee duetalbums uitgereik het en boonop die top-20 van die destydse kykNET-talentkompetisie, Zing, gehaal het.

Ná sy matrikulasie aan die Hoër Tegniese Skool Newton in Port Elizabeth (nou Gqeberha) het Ruhan sy ambagkwalifikasie as elektrisiën gekry. Dit het sy 2022 opname van die Sol-Tech-beroepsopleidingskollege se kampuslied nog meer gepas maak.

Op 21 het daar een van die vele “groot genades” soos hy na hulle verwys, op sy loopbaanpad gekom toe sy oom en tannie hul huis in Pretoria vir hom en Jeanré oopmaak. Dit het die broers kans gegee om voltyds hul musiekloopbaan aan te pak.

Hier het hy egter kennisgemaak met die struikelblokke wat aan ʼn kunstenaarslewe gekoppel word: eindelose kroegoptredes, debietaftrekkings wat nie wou deurgaan nie, en ʼn album wat nie groot trefferlyste gehaal het nie.

“Dit was ʼn rowwe tyd en dalk die een enkele fase van my lewe waar ek amper handdoek ingegooi het. Terselfdertyd was dit was soos ʼn tipe universiteit vir my. Dis waar ek geleer het hoe om mense en gehore te lees.

“ʼn Mens klim dan een aand van die verhoog af, besef opnuut hoekom jy doen wat jy doen. Ek kan dit nie eintlik in woorde omsit nie, dis iets toweragtig wat jou ʼn nuwe inspuiting gee.”

Touch of Class bekoor

In 2012 tref ʼn tweede “groot genade” hom in die vorm van Touch of Class se Deon van der Merwe.

Die duo het veral naamgemaak met hul weergawe van Simon & Garfunkel se treffer, “The Sound of Silence”, ʼn lied wat hy ook saam met sy broer in 2000 op hul debuutalbum opgeneem het.

touch of class

Ruhan en Deon van der Merwe, sy sangmaat in Touch of Class. (Foto: Verskaf)

Ruhan en Deon se regstreekse optrede hiervan het in 2016 gehore van beide Classics én Afrikaans is Groot op hul voete gehad. Tot op hede het hul musiekvideo van “The Sound of Silence” meer as 11 miljoen trefslae op YouTube gekry.

Nou terg dat hy nooit dié lied sal kan afskud nie.

Volgens Ruhan was die duo se sewe jaar saam vol suksesse, maar nie sonder persoonlike struikelblokke nie.

“Ons het in ʼn stadium 28 vertonings per maand gedoen. ʼn Mens slaap vier ure as jy gelukkig is en probeer tussendeur tyd vir die ateljee maak. Ek is al deur soveel dorpe in Suid-Afrika, maar moet liewers nie vir my vra hoe hulle lyk nie. Ek was net in en uit,” skerts hy.

Ook sy eerste huwelik het onder sy besige skedule gely. “ʼn Gesinslewe is moeilik vir enigeen in hierdie bedryf en ek haal my hoed af vir dié wat dit laat werk. ʼn Mens spandeer so baie tyd apart en kan maklik verby mekaar leef.”

Daarom het hy besluit om dinge anders te doen toe hy later weer liefde vind.

Sy vrou van ses jaar, Marinda, is die direkteur van Ruhan du Toit Music en saam maak hulle ʼn gedugte span. “Ek wil nie sonder haar toer nie. Sy is ʼn integrale deel van my loopbaan en dit help dat ons dieselfde doelwit saam nastreef.”

Hy bieg dat hulle met tye sukkel om die “werkskakelaar” af te sit, maar vinnige wegbreke na Dullstroom en Magoebaskloof help die paartjie om te herlaai.

Vanjaar het die sanger se elfjarige dogter, wat saam met haar ma in die Oos-Kaap woon, ook vir die eerste keer haar pa op die pad vergesel. “Ons het haar altyd weggehou van my werk af, maar sy word nou mooi groot. Sy het selfs gehelp om voorraad by van die vertonings te verkoop; dit was baie oulik om te sien.”

Solo-loopbaan ʼn monumentale sukses

Sy besluit om in 2019 paaie met Deon te skei, was een waarmee hy vir drie jaar lank geworstel het. Volgens Ruhan was die duo se verskillende lewensfases die grootste bepalende faktor gewees.

“Deon is meer as 20 jaar my senior en ek het geweet daar gaan ʼn tyd kom wat hy moet begin dink aan afskaal, waar my dogtertjie toe sewe jaar oud was en ek nog ʼn groot verantwoordelikheid gehad het. Afskaal was nie ʼn opsie nie.”

Ruhan se waagmoed is beloon met die uitreik van sy album, Monumentaal, waarvan die titelsnit veral bekoor het en die musiekvideo in 2021 met ʼn Aitsa-toekenning bekroon is.

“‘Monumentaal’ is in die pandemie opgeneem en was absoluut die hoopvolle ruggraat van die album gewees. Ek dink ook dit was die tipe lied wat mense veral in daardie tyd nodig gehad het.”

Sy liefde vir melodie en storievertel in musiek het nog altyd voortou geneem en word veral nou weerspieël in sy jongste album, wat hy as ʼn samevatting van die afgelope 30 jaar se werk beskryf.

Oor sukses

“Sukses verander alles. Dit verander hoe jy dink, hoe jy mense hanteer, hoe jy jou finansies beheer. Jy dink jy is dan gemaak, maar jou menslikheid en integriteit word dan eers getoets, want nou begin die regte werk eers. Omring jouself met die regte mense en leer by almal.”

Ruhan du Toit. (Foto: Francois Olivier)

Dryfkrag, dissipline en geduld is volgens Ruhan ook belangrike pilare om sukses te behaal en behou. Ook sy geloof het hom deur die moeilike seisoene geanker gehou.

“As jy ʼn sanger wil word vir geld, maak jy ʼn fout. As jy dit doen vir beroemdheid, moet jy weet dit gaan oorwaai, maar as jy werklik gebore is om dit te doen, dan kan jy nie daarsonder lewe nie. Jy kan dit nie afskud nie en moet daardie gevoel jou dryfveer maak.”

Ruhan du Toit deel sy gunstelingliedjies met Maroela Media. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.