Ruk my tot stilstand- Adam Barnard

Ruk my tot stilstandNadat hulle omtrent ses jaar lank een van ons land se gewildste sanggroepe was, het Romanz vroeër vanjaar aangekondig dat hulle gaan ontbind.
Louis Loock was die eerste voormalige lid van dié groep wat ‘n solo-album vrygestel het, en nou het Adam Barnard se eerste solo-album, Ruk my tot stilstand, ook pas verskyn. Adam het egter dadelik besluit dat hy hom op Christelike musiek gaan toespits.
Adam het die eerste snit, Sy Woord, saam met Mathys Maree geskryf, en ‘n mens kom dadelik agter dat jy hier met ‘n uiters talentvolle kunstenaar te doen het. Die titelsnit is ‘n komposisie van Adam en Stass, wie se eerste solo-album verlede jaar verskyn het. Dit is ‘n snit wat jou laat dink, want hierin sê Adam dat hy eerder die Here sal volg as om nie sy stem te hoor nie, ongeag wat die gevolge is. Stass was ook die komponis van die volgende snit, Man van God se hart, en hierin sê hy dat hy ‘n man wil wees wat God behaag. Die eerste treffersnit vanaf die album is Hy is, wat deur Stass, Johan Theunissen en die Groot FM-omroeper Ruben Delmage geskryf is. Dit is ‘n pragtige snit wat selfs ‘n groot kommersiële treffer kan word. Daar is ook ‘n paar bekende snitte op die album; die eerste een is Darlene Zschech se komposisie Shout to the Lord, wat in gemeentes van alle denominasies gesing word. Jy sal sommer dadelik begin saamsing as jy dit hoor! Adam en Mathys Maree het die pragtige snit Kniel voor Hom geskryf. Nog ‘n bekende lied wat jou dadelik sal laat saamsing, is Jesus groot bo almal. Daar is net ‘n klein stukkie bygeskryf, maar dit maak nie juis ‘n groot verskil nie. Nog ‘n bekende snit is Wat ‘n vriend het ons in Jesus; en ouer mense sal bly wees dat hy die oorspronklike lirieke sing. Die musikale verwerking is uitstekend, en dit laat jou van voor af luister na ‘n liedjie wat jy gedink het jy baie goed ken.
Hy ken my hart is ‘n pragtige komposisie van Adam en Stass. Stass het ook die volgende snit, Hy weet beter, geskryf, en hierin sê hy dat ‘n mens nie altyd die beste weet wat goed is nie en dat ‘n mens eerder na God moet luister. In die hemel is die Heer is nog ‘n bekende snit wat jou sal laat saamsing. Een van die heel beste snitte op die album is Was jy daar, ‘n oorspronklike komposisie van Stass. God is hier aan die woord, en die boodskap van dié snit is dat die mens nie die oordeel van God in twyfel behoort te trek nie. Die laaste snit is die bekende I’ll walk with God, wat veral by liefhebbers van meer ernstige musiek byval sal vind.
Die afgelope jaar was daar maar min Christelike albums waaroor ‘n mens opgewonde kon raak, en die feit dat Joe Niemand die Ghoema-toekenning vir die beste Christelike album gewen het, was vir niemand ‘n verrassing nie. Adam het egter vorendag gekom met ‘n skitterende album wat by ‘n baie groot gehoor byval sal vind. Dit sal my hoegenaamd nie verbaas as dit die beste Christelike album van die jaar gaan wees nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.